Lesers kan groot bydrae maak
2007-09-27
DIE Paarl Post samel vanjaar met die Kerstyd vir die eerste keer fondse in vir die Wes-Kaapse Gemeenskapskas, wat sowat 30 verdienstelike plaaslike organisasies steun.
Die Gemeenskapskas maak reeds aansienlike bydraes tot welsynsorganisasies in die Paarl Post se lesersgebied en lesers word uitgenooi om dié poging ’n hupstoot te gee met bydraes tot die nuwe Paarl Post Kersfonds.
Alle plaaslike bydraes word in ’n afsonderlike bankrekening inbetaal en deur die Gemeenskapskas teruggeploeg in die Paarlvallei - geen bydraes van ons lesers sal aan begunstigdes buite die Paarl Post se lesersgebied uitbetaal word nie.
Organisasies wat deur die nuwe Paarl Post Kersfonds gesteun word, sluit in die ACVV-takke in Paarl/Wellington/Fransch-hoek, Rusoord ouetehuis, Oasis bejaardesentrum, Paarl & Distrik Kindersorg, Ikwezi gemeenskapsentrum se program vir Vigswesies in Mbekweni, Franschhoek Family in Focus, Wellington Abbeyfield tehuis, Badisa (die VGK se barmhartigheidsarm in Wellington en Paarl), Huis Andrew Murray kinderhuis, CareCraft Wellington (werkswinkel vir epilepsielyers), Franschhoek Legal Advice Centre, Drakenstein Association for the Physically Disabled, Mosaic hofondersteuningsdiens, Sanca (Raad teen afhanklikheid van alkohol en dwelms) en Rapcan (steun van getuies in verkragtingsake).
Boonop is ’n groot aantal kleuterskole en naskoolsentrums ook begunstigdes van die Paarl Post Kersfonds.
Daar is ook ’n verskeidenheid kleuterskole wat steun op bydraes van die Gemeenskapskas: Kairos Educare (Simondium), Bovlei Crèche, Wieliewalie bewaar-skool, Drakenstein bewaarskool, Little Stars en die bewaarskole Lingelihle, Little Flower, Masibulele, Masincedane, Nompumelelo, Sinethemba en Siyakhula asook naskoolsentrums Mamzama, Sinethemba en Rise & Shine.
Slegs formele organisasies wat geouditeerde state indien van hul uitgawes, word deur die Gemeenskapskas gehelp met fondse. Die voorsitter van die Gemeenskapskas is Brian O’Connell (rektor van UWK).
Die Gemeenskapskas benut alle leserskenkings om welsyn te steun - administrasiekostes word verhaal uit ander bronne, soos erflatings.
Stuur skenkings aan Paarl Post Kersfonds, Posbus 248, Paarl, 7620. Alle skenkings word in die Paarl Post erken.
Skenkings kan ook direk inbetaal word in die Gemeenskapskas/Paarl Post Kersfondsrekening 62152029007 by FNB (taknommer 261150) en faks die strokie na 021-872-9280 (aandag Kersfonds).
* Organisasies wat wil registreer as begunstigdes van Gemeenskapskas, kan Liezl Leibbrandt kontak by Liezll@ com chest.org.za of tel 021-424-3344 of 082-200-3738.
More
News
|