Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Familie geskok oor vryspraak

Familie geskok oor vryspraak
 
2007-09-27


“MY broer is twee keer vermoor.” Dit was die emosionele woorde van Ivor Jacobs nadat sy broer Charles se vermeende moordenaars verlede week skotvry uit die Kaapse Hooggeregshof gestap het.

Die opspraakwekkende ‘kerk’-moordsaak teen Evans Marani, Selwyn Adonis, Anil Pharao en Edwill Gerber, wat bykans ’n maand geduur het, het tot ’n skokkende einde gekom toe regter Tandaswa Ndita dié mans van moord vrygespreek het.

Sy het wel vir hulle ’n opgeskorte vonnis van twee jaar weens diefstal en die besit van gesteelde goedere gegee. Dié mans is egter reeds sedert November 2005 in aanhouding en sal dus nie dié vonnis uitdien nie.

Die bebloede liggaam van Charles Jacobs is op 31 Oktober 2005 in die Mormoonse Kerk in Klein Drakensteinweg deur Ivor en huisvriend Godfrey Makapele, ontdek, toe hulle vir hom gaan soek het nadat hy die vorige aand nie by die huis opgedaag het nie.

Charles se hande is met ’n elektriese koord agter sy rug vasgemaak en hy is verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek.

Die hoofverdagte, Keniaan Evans Marani, het as sendeling en ouderling by die kerk gewerk en hierdeur het hy bevriend geraak met Charles en sy familie.

Tydens die hofverrrigtinge het die verdagtes erken dat hulle die kerk beroof het, maar het ten sterkste ontken dat hulle Charles vermoor het.

Marani het gesê dat hy vroeër die dag by die kerk aangekom het en op Charles se lyk afgekom het.

Volgens hom het hy nooit die voorval aan die owerhede gerapporteer nie, want hy het gevrees dat dit hom by die moord sou betrek.

Marani is later terug na die kerk met die ander verdagtes en hulle het verskeie elektroniese toestelle uit die kerk gesteel.

’n Regsdeskundige het gesê dat die saak van die staanspoor af verloor is, toe die oorspronklike ondersoekspan die moordtoneel vertrap het.

Tydens die hofverrigtinge het dié feit telkens vorendag gekom. ’n Bloedbesmeerde afdruk van ’n hand wat teen die muur gelaat is en die woord ‘Satun’ wat op die vloer geskryf is, is nooit ontleed nie.

Sewentien vingerafdrukke is ook op die toneel gevind en slegs een hiervan is ontleed.

Die moordtoneel is so vertrap deur polisiebeamptes dat geen voetspore gelig kon word nie.

“Die ondersoekbeampte wat later die saak oorgeneem het, insp JT Petersen, het aan ons erken dat die moordtoneel bederf is nadat Charles se lyk gevind is.

“Nadat hy die ondersoek oorgeneem het, het hy gered wat daar te redde was en die saak na die Hooggeregshof geneem.

“Die regstelsel van die land het hier vir ons gefaal.

"Hoe baie mense moet nog sterf voordat dié stelsel hersien sal word?” het Ivor en sy suster Sharon Wyngaardt gesê.

“Ons soek nie wraak nie, net die waarheid.

Ons weet Marani is skuldig en nou loop hy as ’n vry man rond, terwyl ons sukkel om met ons lewens aan te gaan.

“Die regter wou na geen feite kyk nie en ons moet vir die res van ons lewens hiervoor boet.”

* The four men accused in the murder of Charles Jacobs have been acquitted.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za