Cultivaria finesse
2007-09-27
DIE Cultivaria feesorganiseerders meen sowat 8000 mense het die naweek die fees se hart besoek - die kostent by Faurestraat-stadion.
“Die belangstelling was so groot dat die bywoning van vertonings 50 persent beter is as verlede jaar, het ’n uitgeputte feesdirekteur, Gerhard Meyer, gesê. Die gehalte van vertonings het Paarliete sowel as besoekers gaande gehad.
“Gewild? Ja daarvan het die uitbundige gehoor getuig,” het resensent Maureen Joubert oor die vertoning van ’n Dosis Waarheid met Riaan van Heerden gesê.
En te oordeel aan SMSe aan die Paarl Post, was “gewild” die gewildste woord dié naweek.
Jannie Moolman (hoofproduksie van die fees, TydloosII) “mag maar sing!”, lui kommentaar.
Oor die Paarl se eie Joey de Koker in haar vertoning “Rolstoel bliss en blues” het resensent Maureen Joubert gemeen: “In ’n pers uitrusting het sy nie net gesit en mooi lyk nie. Sy het gepraat. “Die Britte het hul Judi Dench, die Amerikaners had seker maar Anne Bancroft. Ons het vir Joey de Koker - Viva Joey!”
Nog ’n resensent, Wiaan van Zyl, skryf: “So gewild is Zorada Temmingh en Elna van der Merwe se tweeklaviervertonings (Blondes Beethoven and Abba) dat die gehoor self al encore skree voordat ’n enkele noot gespeel is.”
Maureen Joubert voel: “Vir Rory (Rootenberg) kan ons sê: Jy sing van die lang begeerte om cute te wees. Vir ons was jy nie cute nie. Jy was great.”
En dan is dit resensent René Belcher-Van den Berg wat vra: “Wat is die helfte so groot soos ’n rugbyspan en het amper soveel testoroon soos die All Blacks se ‘haka’? Navi Redd!”
Ander voel weer Coenie de Villiers en Amanda Strydom is twee van daardie kunstenaars wat soos ’n goeie bottel Bolandse rooiwyn net beter raak met die tyd.
“Presies soos Cultivaria,” sê die organiseerders. “Dis nou die tweede jaar van die fees, en dit sal van krag tot krag gaan.”
More
News
|