Toer na erfenisskatte was 'n wenner
2007-09-27
VIR dekades het daar feeste op die lorrie geklim en 'n paar het al uit die bus geval, maar nie in die Paarl nie.
Van die 100 items om van te kies by Cultivaria het ek besluit op die kultuurhistoriese toer deur die Paarl wat by Laborie begin het. Ons gids vir die middag was Johan Malberbe, 'n boorling van die dorp en nou 'n argitek wat passievol oor bewaring gesels.
Ons ry per bus in die Hoofstraat af en Johan wys al die verskillende boustyle vir ons uit.
Die toer bied 'n besonderse oorsig oor die vooruitgang, stagnasie en modernisering van die dorp se argitektuur. Hierdie roete kan ook te voet verken word en 'n goed saamgestelde gids met tekeninge en inligting is beskikbaar.
Ons is ook bevoorreg om die oudste werkende familie by JA Clift Steenwerke te ontmoet. James Andrew Clift het meer as 100 jaar gelede van Ierland af gekom en vandag is die vierde geslag nog steeds aan bewind van hierdie besigheid.
Die eerste opdrag wat Clift uitgevoer het, was die Rhodes Memorial, wat in 1908 voltooi was.
Daarna het baie ander gevolg en die lys is indrukwekkend. Vandag besit hulle onder andere die De Hoop plaas en ontgin hulle eie grys graniet, maak wyn en bemark olyfprodukte.
Terug by Laborie kan ons die herehuis besoek, wat slegs vir konings en VIP gaste toeganklik is. Deur die jare het die geskiedenis hierdie huis al omgedraai en wat eers die agterdeur was, is nou die voordeur.
Dit is ook op hierdie landgoed waar die Anglo-Boereoorlog Monument opgerig is. Die area is moeder natuur op haar beste, met granietrotse wat onder die skaduwees van 'n paar eikebome aan die voet van Paarlberg lê.
Geskiedenis wil dit hê dat die vroue van die rebelle hier stil-stil ontmoet het om ondersteuningsveldtogte te beplan. Die uitleg is intiem met 'n kontemporêre beeldhouwerk van ‘n naakte manlike en vroulike figuur wat intens en hulpeloos na mekaar staar.
Die rebellestryd word verder simbolies op reliëfpanele teen die granietrotse uitgebeeld en die meer as 100 Rebelledorpe se name is in granietpanele gegraveer en omring die area. Beslis die besoek werd.
Una Beukman
More
News
|