Wêreldkenners proe Veritas
2007-09-27
DIE 2007 Veritas Toekennings, Suid-Afrika se oudste en mees omvattende wynkompetisie, spog oudergewoonte met top internasionale wynkenners wat, saam met meer as 100 plaaslike wynkundiges, hierdie jaar ‘n rekord aantal wyne beoordeel het.
Die 2007 Veritas dubbelgoud- en goud toekennings word op Saterdag 13 Oktober tydens ’n galadinee by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum bekend gemaak.
Van Maandag 17 September tot Donderdag 20 September het dié ervare span koppe bymekaargesit oor watter van die meer as 1 900 markklaar wyne dubbelgoud en goud status verdien.
Veritas het vanjaar ‘n ongekende groei van 14% gehad en ‘n rekord 231 meer wyne as verlede jaar is ingeskryf. Die 327 wynmakerye wat deelneem, is ook die meeste nog in die kompetisie se geskiedenis die afgelope 17 jaar.
Die internasionale span bestaan uit onder andere John Avery (MW) van die Verenigde Koninkryk, voorsitter van een van Brittanje se grootste wyn invoer- en verspreidingsmaatskappye, Avery’s of Bristol; Julian Brind (MW), ook van die VK met 40 jaar ondervinding in die wynbedryf; Michelle Cherutti-Kowal, eienaar van Wine Affairs in die Verenigde Koninkryk; en Lynne Sherriff, die Britse en Kaapse wynmeester wat in Engeland woon. Al vier het die hoog aangeskrewe kwalifikasie van die Institute of Masters of Wine behaal.
Die ander internasionaal erkende beoordelaars is die bekroonde joernalis Michael Vaughan van Kanada, wynaankoper van die Sweedse Monopolie en bekende sommelier Jonas Röjerman, wynaankoper Thomas Lüber van Duitsland, twee wynmakers en bekende wynbeoordelaars van Australië, Mac McKenzie asook Bob Cartwright - die Australiese Chardonnay-spesialis - en die Suid-Afrikaanse wynkenner en bekroonde proeër, Dave Hughes.
Altesaam 16 spesialis-panele van sewe beoordelaars elk het die wyne beoordeel by die Nederburg Veiling Kompleks in die Paarl.
Die Veritas Toekennings word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging aangebied en is alom bekend as die wynbedryf se mees gesaghebbende gehaltemaatstaf. Die Veritas-embleem dui kaliberwyne aan en sal ná die bekendmaking op wenwyne pronk.
Shiraz, met 220 inskrywings, is vir die sesde agtereenvolgende jaar die grootste klas, gevolg deur Sauvignon Blanc (209) en Cabernet Sauvignon (204).
More
News
|