Literêre toere deur die Wes-Kaap
2005-06-09
IN die tweede helfte van die jaar plaas John Kannemeyer en Wium van Zyl weer ’n aantal van hul gewildste literêre reise op die kalender.
Telkens word toergangers gelei op die voetspoor van skrywers, maar terselfdertyd word hulle goed op die hoogte gebring van dikwels haas onbekende aspekte van die streke waardeur die roetes gaan.
Die eerste van hierdie reise is die negedaagse Loerietoer (19-27 Augustus) na Oudtshoorn en Knysna.
Dit is in werklikheid ’n verbinding van ’n besoek aan CJ Langenhoven se droë Klein Karoo met sy bergpasse en die natter omgewing van Dalene Matthee se Knysna met sy bosse en mere.
Die reis munt uit deur die groot verskeidenheid wat toergangers ervaar.
Die eerste drie dae van die toer oornag hulle op Ladismith en Oudtshoorn.
Afgesien van baie onbekende plekke wat met Langenhoven in verband staan, word die wêreld van die Klein Karoo algaande ontsluit: die geskiedenis, die bodemgesteldheid, die skilderagtige bergpasse, die warmwaterbronne, die boereplase, die volstruisnywerheid, die grotte, die folklore, die spoke en dies meer.
Van Oudtshoorn gaan hulle dan vier dae lank op die voetspoor van Dalene Matthee oor die berg na die nat suidelike gebiede van bos en see waar die ervarings wissel van olifante, voëls en apies tot die ruie varings en bome van die oerbos; van asemrowende ritte per bus en trekker tot ’n vaart per boot op die meer.
* Die vierdaagse Leipoldt-Boerneef-toer na Ceres, die Koue Bokkeveld, Clanwilliam en Calvinia word vanjaar van 21 tot 24 September aangebied.
Hulle ry op die roete waarop die boere in die ou dae in die koue winters van die Bokkeveld met die skape na die warmer Ceres-Karoo getrek het en sien Boplaas met sy historiese opstal waar Boerneef gebore is en grootgeword het.
Daarna ry ons deur die Sederberge na Clanwilliam, die jeugwêreld van Louis Leipoldt.
Hulle besoek Wuppertal, die sendingstasie wat deur sy oupa aangelê is. Die groep oornag op Calvinia voordat hulle deur die Hantam vir ’n laaste besoek aan Clanwilliam terugkeer.
Die jaarlikse eendagtoer deur die Wes-Kaap vind vanjaar op 26 November plaas. Dit begin in Kaapstad waar allerlei plekke en huise wat met die literatuur in verband staan, uitgewys word.
Van daar reis hulle na Stellenbosch waar ’n uitstalling van dokumente en handskrifte van skrywers te sien is, voordat hulle na die Paarl en Daljosafat beweeg en die gerestoureerde Gedenkschool der Hugenoten besigtig.
Om teleurstelling te voorkom, word voornemende deelnemers gevra om so gou moontlik in verbinding te tree met prof Wium van Zyl by 976-5755 (tel/faks) of wvanzyl@uwc.ac.za
Aanstaande jaar, met die oog op die honderdste verjaardag van NP van Wyk Louw op 11 Junie, beplan hulle ’n naweekuitstappie na Matjiesfontein en Sutherland. Voornemende deelnemers word aangeraai om reeds nóú by prof van Zyl te bespreek.
Mense wat belang stel in ’n Lae Lande-toer in Mei 2006 mee te maak, skakel so gou moontlik met John Kannemeyer by 887-2744 of jckanne meyer@absamail.co.za.
More
News
|