Paarl-Oos begin goed
2007-09-27
DIE spanne van GM Thorp Paarl-Oos Krieketklub het die afgelope naweek hul eerste wedstryde van die seisoen afgehandel.
Alhoewel hierdie kragmetings slegs vriendskaplik van aard was, is die platform neergelê vir wat verder hierdie seisoen verwag kan word. Saterdag het Paarl-Oos teen Mitchellsplein te staan gekom by Allandale se velde.
Die Paarliete is eerste ingestuur om te gaan kolf en het ’n opdraande stryd gehad om lopies aan te teken.
Die kolfblaaie het nog baie groenigheid gehad wat die bal meer laat wip en swaai het.
Paarl-Oos het in hulle toegelate 50 beurte 170 lopies aangeteken vir die verlies van sewe paaltjies.
Jackie Daniels (54, 3x6 en 1x4) en Morné de Vries (48, 2x6 en 2x4) het vir Paarl-Oos uitgeblink met die kolf.
Mitchellsplein het egter aan die kortste end getrek tydens hul kolfbeurt en kon nie die Paarliete se boulaanval baasraak nie.
Die besoekers is almal vir ’n karige 103 lopies uitgehaal.
Jackie Daniels het voortgebou op ’n uitstekende kolfvertoning en altesaam vyf paaltjies vir 25 lopies geneem. Hy is goed bygestaan deur Wayne Minnies (2/8) en Dennis November (2/24).
Die Paarliete het ook Sondag teen Kuilsrivier te staan gekom en in hul toegelate 45 beurte 198/7 aangeteken.
Kuilsrivier het soos Mitchellsplein gevou onder die druk van Paarl-Oos se boulers en kon net daarin slaag om 121 lopies op die telbord te sit.
Elroy Abrahams (58, 3x4), Randall George (25, 1x6 en 2x4), Kurt Julies (21, 2x4) en Ferdie Jonathan (20*) was die grootste puntemakers met die wilger.
Wayne Minnies (4/9), Garth Fortuin (2/21) en George (2/22) het die paaltjies vir Paarl-Oos geneem.
More
News
|