Uitgeboul: HJS trap klei
2007-09-27
DIE o.15 krieketspan van Hoër Jongenskool Paarl het Dinsdag harde bene gekou teen Westville Seunskool van Kwa-Zulu Natal tydens een van die wedstryde by Boishaai se kriekettoernooi. wat hierdie vakansie plaasvind.
Die wedstryde sou klaarblyklik oor die naweek plaasgevind het tussen dié twee skole asook Paul Roos Gimnasium van Stellenbosch en Kearsney van Durban, maar slegte weer het 'n stokkie hiervoor gesteek.
Die Boishaaiers het die besoekers Dinsdag ingestuur om eerste te gaan kolf en met 'n goeie boulvertoning hul teenstanders se lopietempo beperk.
Die besoekers se paaltjies het kort-kort gekantel en hulle het gesukkel om goeie vennootskappe te bou.
Die Paarliete het met skerp veldwerk die Natallers verder onder druk geplaas en almal vir 158 lopies terug op die pawiljoen gehad.
Ná middagete het die Paarliete 'n bietjie van hulle eie medisyne gekry.
Die Westville-boulers het alles uit die kolfblad gehaal om die Boishaaiers 'n bietjie te laat sweet.
Die Paarliete is uiteindelik almal vir 136 uitgehaal en hulle verloor dié wedstryd met 22 lopies.
More
News
|