Dogtertjie vermink: voetgangers word slagoffers
2007-10-04
Lise Beyers
TWEE voetgangers, onder wie ’n vierjarige meisie, is binne enkele oomblikke na mekaar dood in twee afsonderlike voorvalle.
Asemahle Zwebi (4) is Vrydagoggend omstreeks 10:00 deur ’n motoris getref in Drommedarisstraat, Mbekweni.
Volgens ooggetuies het die motor ’n stilstaande voertuig verbygesteek en het in die dogtertjie vasgejaag terwyl sy die pad wou oorsteek.
Verdwaasde omstanders moes toekyk hoe haar tengerige liggaampie sowat 30 meter ver deur die lug trek weens die impak.
’n Ontstoke familielid het gesê dat motoriste dikwels baie onverskillig bestuur in Drommedarisstraat en dat daar nie genoegsame spoedhobbels is om spoed te beperk nie.
Terwyl Asemahle leweloos in die pad gelê het, is ’n bejaarde man enkele kilometer vanaf dié ongelukstoneel ook doodgery.
Die twee-en-sestigjarige Reitz Wellman van Hillcrest was besig om Gansstraat oor te steek in Vanwyksvlei, toe ’n munisipale vragmotor agteruit gery het. Wellman het onder die wiele te lande gekom.
Toe omstanders waarskuwings vir die bestuurder skree, het hy vorentoe gery en die voertuig se wiele is weer oor Wellman.
Wellman se suster, Helen September, en sy seun Petro Jacobs, was kort hierna op die toneel, maar hy was reeds dood.
“Reitz sou nie skielik agter die vragmotor kon inloop nie, want hy het gesukkel met loop weens sy swak bene. Hy moes ook met die hulp van ’n kierie loop.
“Blykbaar woon die munisipale bestuurder in Gansstraat en hy het in sy werkstyd by sy huis gestop.”
Die polisie ondersoek sake van strafbare manslag teen die bestuurders in beide voorvalle.
* Two pedestrians died when hit by motorists in two separate incidents on Friday.
More
News
|