`Dis alweer die bure' in die Paarl opgevoer
2005-06-09
DIE mishandeling van oumense, ’n alledaagse gebeurtenis in baie van ons gemeenskappe, is onder die loep in ’n drama wat môre- en Saterdagaand om 20:00 in die Paarlse stadsaal opgevoer word.
Chris Majiedt het besluit om dié euwel te ontbloot in die toneelstuk “Dis alweer die bure”.
Daarin word naarstigtelik na ’n oplossing vir die probleem van die hulpelose mnr Moolman gesoek. Met senior mishandeling as tema, sal enige stuk potensieel as neerdrukkend voorspel word, maar die teendeel is hier ter sprake.
Sonder om die aap uit die mou te laat, kan gesę word dat die humor in die stuk genotvolle vermaak uit die boonste rakke verseker.
Die akteurs, almal van Mitchellsplein, is Shalom Goldstone as mnr Moolman, Queenie Manuel as mev Bok, Caitlin Simmers as Wilmien en Chris Majiedt as Dan.
Chris Majiedt, wat verantwoordelik is vir die teks en regie, is ’n boorling van Kenhardt en met ’n evangelis as pa trek hulle baie rond.
Hy woon tans in Mitchellsplein en stig sy eie dramagroep, die Skim dramagroep, wat staan vir Straat Kinders Is Mense.
Met sy drama- en toneelwerk wil hy geld insamel vir ’n transformasiesentrum vir straatkinders.
Majiedt het ook opgetree in “Die ander Marta” by die KKNK. Kaartjies is beskikbaar by die deur. Kontak Majiedt by 082-511-9096 vir navrae.
More
News
|