Staak die klaagliedere
2007-10-04
EK wil my dank teenoor Paarl Post en Radio KC uitspreek, die media wat my in my tien jaar lange stryd vir geregtigheid ondersteun het.
In Oktober 2003 het Paarl Post berig oor die feit dat ons ons huis in die Amstelhof-behuisingsprojek (Spes Bona) uit eie sak gebou het, nadat die staatsubsidie skielik gestaak is.
Die staak van die subsidie het blykbaar plaasgevind omdat die regering besluit het om nie meer individuele subsidies toe te staan nie.
Omdat die erf wat in 1997 aan ons toegeken is, gevolglik nooit in ons naam oorgedra is nie, het ons die huis effektief op eie risiko gebou terwyl dit nog staatsgrond was en kon dit ook nie verseker nie.
Verskeie ander mense in ons woonbuurt is in dieselfde bootjie. Maar ek het nie stilgesit nie, en het voortdurend geveg vir geregtigheid.
Uiteindelik het ons besluit om persoonlik na die provinsiale administrasie toe te gaan en die pad aangedurf na Waalstraat 27 in Kaapstad. Ons het daar met ’n mnr Daniels gepraat.
En glo dit of te nie, uiteindelik is die uitstaande bedrag in ons bankrekening inbetaal. Hopelik sal die grond eersdaags aan ons oorgedra word.
Ek wil daarom vir mense sê: staan op vir jou regte. Moenie op die ashoop sit en kla nie. Sit skouer aan die wiel - eis dit wat joune is. Ons is baie dankbaar vir die uitkoms.
Maria Titus
More
News
|