Kok slaag beamptekursus met lof
2007-10-04
DIE Paarliet en tegniese beampte van Boland Atletiek, Allison Kok, het onlangs die IAAF se Vlak 1 Tegniese Beamptekursus by die Hoë Prestasie-sentrum in Pretoria met lof geslaag.
Kok was een van 24 beamptes in Suid- Afrika wat hierdie kursus bygewoon het.
“Die kursus het baie uitdagings aan my gestel, maar ek het uiteindelik baie goed geslaag,” het Kok gesê.
Kok is slegs die vierde tegniese beampte in die Boland wat dié kwalifikasie agter haar naam kan skryf.
Die ander gekwalifiseerde beamptes is Brandon du Plessis (voorsitter van Boland Atletiek se tegniese komitee), Clarence Johnson en Anthony Muller (altwee dien op Boland Atletiek se tegniese komitee).
Gedurende die afgelope paar jaar het Kok uitstekende werk gelewer en is ’n bekende gesig by die wenpaal van al Boland Atletiek se wedlope.
Sy het ook verskeie kere die afgelope paar jaar opgetree as spanbestuurder vir Boland Atletiek.
Onder haar leiding het die Boland junior vroue 10km-span derde gekom tydens die 2005 SA 10km kampioenskap asook ’n tweede plek by dieselfde kompetisie in 2007.
More
News
|