Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarlse aktrise in bekroonde stuk

Paarlse aktrise in bekroonde stuk
 
2005-06-09


DERTIG jaar nadat Faan se Trein oorspronklik in Kaapstad opgevoer is, is dié bekroonde toneelstuk nou weer hier vir toneelliefhebbers beskore.

Dié splinternuwe opvoering, onder leiding van Albert Maritz, is by vanjaar se KKNK met die Kanna Herrie-toekenning bekroon nadat die gehore dit as die gewildste produksie ingestem het.

Nou gaan ’n ruimhartige borgskap van Sanlam help om speelvakke by verskeie kunstefeeste en teaters in ander dele van die land moontlik te maak, onder meer van 14 tot 16 Junie in die ouditorium van die Hoërskool Durbanville.

Die rolverdeling bestaan uit van die bekendste Afrikaanse akteurs soos Paul Eilers as Faan, met Johan Botha as Faan se pa, Ou Frik, en Johan Malherbe as die dominee.

Ander rolle word vertolk deur Sophia Passerini (Truia), Ivan Zimmermann (dokter) en Wilma Schoeman (dokter se vrou), Hannetjie Smit (dominee se vrou), Deon Lotz (sersant) en Viljé en Martiens Maritz as die seuns.

Sophia is ’n Paarliet en sy beskryf haar rol as “my grootste leerskool nog in teater en die lewe”. Sy praat met die grootste lof van haar mede-akteurs en sê sy voel geëerd om aan die produksie deel te neem.

Die inheemse werk, geskryf in die vroeë sewentigs deur Pieter Fourie, vertel die storie van die Oosthuizens. Dit is eenvoudig, maar in hul eenvoud simboliseer hulle basiese lewenswaardes.

In Faan se pittige humor lê die tragedie opgesluit wat enige mens aan die hart sal gryp. Sy en Ou Frik se stryd is die kern van ’n lewensgetroue verhaal, deurspek met die idiome en atmosfeer so eie aan sy milieu.

Bespreek by Trudie by 082-565-1401 of Elsa by 082-578-8655.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za