Klapmuts kry kweekhuis
2007-10-04
DIE Watergarden-projek, met ’n naskool-sentrum in Klapmuts, het onlangs hul Kweekhuis hulpbronsentrum bekend gestel by die sportklubhuis in Adamstraat.
Dis die plek in Watergarden waar “ekstra voeding en gunstige omstandighede” geskep word vir die kinders om intellektueel te groei.
Lorenza Williams van die Sielkunde Departement by die Universiteit van Stellenbosch is die Watergarden projek-koördineerder en een van die organiseerders.
Sy sê: “Die hoofdoel by Watergarden is kognitiewe en motoriese stimulering asook psigo-opleiding. Die Kweekhuis help ons om ons doelstelling vir kognitiewe stimulering vir die kinders meer effektief na te streef.”
Die “Kweekhuis” sal aanvanklik net oop wees tydens Watergarden se projektye op Dinsdag-, Woensdag- en Donderdagmiddae weens die beperkte fisiese en menslike hulpbronne.
Die idee vir ’n hulpbronsentrum het gespruit uit ’n behoefte in die Klapmuts-gemeenskap. Daar is tans geen biblioteekgeriewe in Klapmuts nie, en kinders moet daarom Paarl, Stellenbosch of Kraaifontein toe gaan om navorsing te doen.
“Veral met die skoolkurrikulum wat vereis dat leerders navorsing moet doen, is so ’n hulpbronsentrum noodsaaklik,” sê Williams. Daar is 60 studente-vrywilligers betrokke by Watergarden wat weekliks kom werk. Ongeveer 200 kinders tot 16 jaar oud, woon Watergarden programme by.
Die projek word bestuur deur studente van Stellenbosch Universiteit, en is geregistreer onder die vaandel van die sentrum vir Gemeenskapsielkundige Dienste van Stellenbosch Universiteit.
Watergarden verwelkom boekskenkings en skootrekenaars ten einde die “Kweekhuis” toe te rus met doeltreffende hulpbronne vir die leerders.
Vir inligting, skakel Bianca Joseph by 073-501-4050 of Lorenza Williams by 073-186-4248 of epos 13833502@sun.ac.za.
More
News
|