Young Peoples Blues se tier
2007-10-04
DIE rugbyklubs van Young Peoples (Tiere) en Lower Paarl (Blues) het Saterdag koppe gestamp tydens hul jaarlikse derby by Daljosafat-stadion.
Die juniors was eerste aan die beurt en dit was van die begin af duidelik dat Young Peoples daarop uit was om skoonskip te maak.
Die Tiere se drie junior-spanne het die Blues gedurig onder druk geplaas om al drie kragmetings met redelike gemak te wen.
Young Peoples se vrouespan het ook sukses behaal terwyl die Blues se veterane geseëvier het.
Die stryd tussen die eerste spanne was glad nie so eensydig soos die voorwedstryde nie.
Die Blues het Young Peoples effens skrik op die lyf gejaag met harde rugby.
Die voorspelers het gelyk teenoor mekaar opgeweeg, maar die Tiere se agterlyn het egter beter vertoon in vergelyking met dié van hul teenstanders.
Alhoewel die Blues in die laaste tien minute verwoed aangeval het, was Young Peoples se verdediging egter rotsvas.
Die wedstryd kon werklik na enige kant geswaai het, maar dit was uiteindelik Young Peoples wat net te sterk was.
Hulle het die derby met 17-16 gewen.
Edward Pietersen het die Blues se enigste drie aangeteken terwyl Riaan Jordaan met een doelskop en drie strafskoppe geslaag het.
Vir Young Peoples het Delwayne Cornelissen, Barry Williams en Francois Manuel die drieë gedruk met Cornelissen wat een doelskop oorgeklits het.
* Lower Paarl bied volgende Saterdag ’n disko by Charlie’s Pub aan. Die geleentheid begin om 20:00 en die koste is R10 per persoon.
More
News
|