Lizane wen junior ope
2007-10-04
DIE Paarl Muurbalklub het die afgelope naweek gasheer gespeel vir die Gray’s Junior Ope Toernooi waar van die land se top spelers in aksie was.
Meer as 100 spelers van Noord-Gauteng, Oostelike Provinsie, Suidwestelike Distrikte, Westelike Provinsie en Boland het van Vrydag tot Sondag teen mekaar meegeding.
Die kompetisie in die verskillende ouderdomsgroepe was taai met die meeste van die deelnemers wat al voorheen by provinsiale en nasionale byeenkomste teen mekaar te staan gekom het.
Nß twee dae se uitspeelwedstryde is die koring van die kaf geskei en het die top spelers deurgedring na die eindronde.
Die plaaslike spelers wat hier teenwoordig was, het hul hande opgesteek en gewys dat hulle ook teen die beste kan kragte meet.
Onder die seuns het James Hockey (o.11, Paarl Seuns Primêr), Theo Muller (o.14, Boland Landbou) en Pikkie Swanepoel (o.16, Hoðr Jongenskool Paarl) hard gespook om tot die finale rondes deur te dring.
Ongelukkig was die kompetisie te sterk en aldrie spelers moes tevrede wees met derde plekke.
In die afdeling vir meisies het Jancke Krynauw (o.14, Paarl Gimnasium) en Melissa Oettle (o.16, Hoërskool Hugenote) uitstekend gevaar en onderskeidelik die derde en tweede plekke in hul afdelings behaal.
Die jong muurbalster en Suid-Afrika se top o.19 speler, Lizane Vlok, het haar dominansie in hierdie afdeling bevestig nadat sy haar teenstanders van die baan af gevee het om eindelik die eerste plek te verower.
* Paarl Muurbalklub bied volgende Saterdagaand hul algemene jaarvergadering aan by die klub.
Die vergadering sal voorafgegaan word deur die jaarlikse klubkampioenskap wat om 17:00 (vroue) en 18:00 (mans) sal plaasvind.
More
News
|