Fris man vas vir bedrog
2005-06-09
DIE fris bestuurder van ’n pikswart vierwielvoertuig, ’n bekende gesig op Wellington, is in hegtenis op ’n string bedrogklagtes.
William Duncan Cross (39), ook bekend as Andy Cross of Andy Armstrong, het gereeld met sy blink Toyota 4x4 voor die dorp se banke geparkeer.
Cross is verlede jaar vrygelaat nadat hy vyf jaar tronkstraf op soortgelyke klagtes uitgedien het. Hy woon met sy gesin buite Pretoria.
Privaatspeurder Callie Rischbieter was al met die ondersoek na moontlike bedrog besig toe hy Cross toevallig by ’n vakansie-oord op Sedgefield raakgeloop het.
Daar het hy homself as “Van Rooyen” voorgestel, en sy besigheid as “koop en verkoop”.
Rieschbieter het snuf in die neus gekry en met verdere ondersoek besef hy het die man ontmoet wat hy kruis en dwars deur Suid-Afrika gejag het.
“Cross het moontlik ’n medepligtige gehad,” het Rischbieter gesê, “’n Wellingtonner in die rekenaarbedryf wat toevallig saam met hom gevangenisstraf uitgedien het.”
Tydens die ondersoek was dit opvallend dat albei mans vir vyf jaar lank ’n skoon kredietrekord gehad het, totdat dit blyk dat hulle hierdie vyf jaar agter tralies was.
Cross het na bewering plaaslike banke en motorfinansieringsmaat- skappye met ’n halfmiljoen rand ingeloop.
Hy het glo vervalste bewyse van direkteurskappe en salarisstrokies voorgelê om krediet te bekom by verskeie instansies.
Met die plasing van landwye advertensies het hy voorgegee dat hy onkredietwaardige mense sou help om finansiering te bekom indien hulle ’n deposito betaal vir sy dienste.
Cross het dan met die deposito verdwyn.
Hy het ook na bewering met vals name en addresse voertuie van private verkopers geneem en nie weer sy verskyning gemaak nie. Cross word nou in Kemptonpark aangehou waar hy op aanklagte van voertuigdiefstal verskyn nadat hy glo voertuie oor die landsgrense wou smokkel.
Mense en instansies wat met Cross handel gedryf het en verliese gely het, kan Rischbieter skakel by 083-282-9844.
* An alleged fraudster is in custody after damage of R500 000 was done in Wellington.
More
News
|