Rock om die Meul
2007-10-04
DIE 70s rockgroep, Legends, bring Saterdagaand om 20:00 lekker herinneringe terug na die Ou Meul-teater in die Paarl.
Die groep wat bestaan uit Dave Ornellas, Alan Thwaites, Jack de Coita en Paul Martin in die band, kan die gehoor op hul voete hou.
Kaartjies is R50.
Die Ou Meul-teater in Meulstraat, Paarl, bied hope vermaak aan hierdie maand. Vir besprekings, skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056 of e-pos haar by vstemmet@gmail.com.
* Vrydag 12 Oktober om 20:00 is dit die toneelstuk “Bestemmings” deur Marita van der Vyver.
Dié bekende en geliefde skryfster se verhale vind nou ook ’n tuiste op die verhoog.
Joanie Combrink en Susanne Beyers, bekend vir hul Woordkunsprogramme, neem die gehoor op reis.
Saam met regisseur Juanita Swanepoel verken hulle nie net vreemde wêrelde nie, maar gaan ook op ’n binnereis en kom uiteindelik tuis in die harte van almal wat verlang om êrens te behoort.
Dié produksie word vir ’n volwasse gehoor aanbeveel. Kaartjies kos R65.
* Saterdag 13 Oktober om 10:00 is dit Kinderteater met Prinses Jana en die Brullebak.
Die toneelstuk is energiek en kindervriendelik. Prinses Jana kyk heeltemal te veel televisie. Die koning het al gesê sy sal regtig vierkantige oë kry!
Maar vir die klein prinsessie is daar niks wonderliker as die bewegende prentjies nie. Wanneer die “remote control” eendag spoorloos verdwyn, kom Prinses Jana op ’n geheime televisiewêreld af.
Kaartjies is R30.
* Saterdag 13 Oktober om 20:00 tree Louis Loock met sy fluweelstem op in ’n musiek-pogram wat jou hart sal warm maak en jou tone sal laat omkrul van lekkerkry.
Sy eie liedjies soos Nog net eenkeer, Sommer net asook ’n unieke toonsetting van N P van Wyk Louw se Nog in my laaste Woorde is deel van die program.
Kaartjies kos R80.
More
News
|