Spelers speel vir BRU se Elite-groep
2005-03-09
DIE Boland Rugbyakademie in samewerking met sy verskillende streke bied vandag ’n Streek Elitedag vir o.13, o.16 en o.18 rugbyspelers aan.
Wedstryde word op die velde van Boland Stadion en Hoërskool Hugenote gespeel en toegang is gratis.
Die Boland-streke van Sentraal, Witzenberg, Noord-Boland, Suid-Boland, Swartland, Weskus en Noordwes sal aan die dag deelneem. Die Boland Rugby Unie het reeds talentvolle spelers in streekverband geïdentifiseer, met elke streek wat ’n groep van 30 spelers in die betrokke ouderdomsgroep saamgestel het. Sowat 720 seuns sal aan die dag deelneem.
Die doel van die dag is om spelers te identifiseer vir ’n Boland Elite-groep wat ’n oefenkamp sal meemaak en ook voorwedstryde vir die Boland Kavaliers sal speel. Keurders en afrigters kry ook die geleentheid om spelers in wedstrydverband te evalueer, met die oog op die o.13 en o.18 Coca-Cola Cravenweek asook die o.16 Grant Khomoweek.
Die spelers sal ook die kans kry om die Boland Kavaliers te ontmoet. Navrae kan gerig word aan Lance Sendin (873-2317 of 082-258-8210) of Alridge Mercuur (082-774-5909).
Die wedstrydprogram van die dag is: 14:00 Witzenberg t Swartland, 14:45 Sentraal t Noord, 15:30 Noordwes t Uitnodiging XV, 16:15 Suid t Wes, 17:00 Witzenberg t Uitnodiging XV, 17:45 Noord t Noordwes, 18:30 Suid t Swartland, 19:15 Sentraal t Wes.
More
News
|