Motordief vas, ander misdrywe ondersoek
2007-10-11
NADAT ’n twee-en-twintig-jarige man vasgetrek is vir motordiefstal, is daar vasgestel dat hy vir ’n string ander misdrywe gesoek word.
Dit spruit uit ’n voorval toe Jean Smit bevriend geraak het met ’n man van Moederkappiestraat, Noorder-Paarl.
Twee weke gelede het hulle in die man se huis gekuier en vroeg die volgende oggend het bure opgelet dat Smit met arms vol drank in sy vriend se voertuig wegry.
Toe die huiseienaar na dié aand van kuier uiteindelik wakker skrik, was dit nie net sy motor en drank wat spoorloos verdwyn het nie, maar R16 000 se kontant wat hy die vorige dag by die bank getrek het.
Die polisie se hulp is ingeroep, maar Smit het tydelik spoorloos verdwyn.
Op 27 September het die polisie in Seepunt op ’n man afgekom wat in ’n bedwelmde toestand op ’n straatbank gesit het met ’n tik-lollie tussen sy bene.
Dit was inderdaad Smit en die voertuig by hom was dié wat in Noorder-Paarl voete gekry het.
By verdere ondersoek het die polisie besef dat Smit vir ’n klag van verkragting in Johannesburg gesoek word, asook klagtes van bedrog en diefstal in Somerset-Wes.
Polisiebeamptes meen dat dit ’n geruime tyd sal wees voordat Smit weer op vrye voet gaan wees.
* A man who was arrested for vehicle theft is also wanted for rape, fraud and theft.
More
News
|