Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paarl se hart klop weer

Paarl se hart klop weer
 
2007-10-11

Lise Beyers

DIE hart van die Paarl klop nou weer blink nadat die toringklok van die stadsaal na bykans ‘n jaar van stilstand herstel is.

Nadat die oorspronklike meganisme van die klok, wat reeds in 1929 geïnstalleer is, se ratte foutief geraak het, is dit met ‘n ge-elektrifiseerde meganisme vervang.

Dié meganisme sit op dieselfde vlak as die ou meganisme - drie meter onderkant die wyserplate - en gebruik die vertikale skag van die ou meganisme om die wysers aan te dryf.

Die nuwe stelsel het egter ook ‘n jaar gelede gebreek en hierna is die hulp van plaaslike horlosiedeskundige Chris Snyman ingeroep.

Snyman was onlangs betrokke by die installasie van die moderne horlosie in die pasvoltooide nuwe winkel van Wellington Paint and Hardware.

Dié besonderse horlosie word elektries aangedryf en die stroombaan gebruik satelliettyd om die horlosie te beheer.

Alhoewel die herstel van die Paarl stadsaal se horlosie nie so gespesialiseerd as dié projek was nie, het dit steeds fyn beplanning geneem om die ratstelsel, wat eintlik vier horlosiegesigte aandryf, tot op die sekonde tegelyk aan die gang te kry.

Terwyl Snyman die meganisme van die klok herstel het, het hy die ruite van die horlosiewyserplate skoongemaak, asook die verweerde geverfde syfers vervang met helder nuwe vinielletters.

Snyman is egter nie heeltemal tevrede met die huidige stelsel nie en het aan die opsigter van die stadsaal, Pieter Jordaan, voorgestel dat daar in die toekoms gepoog moet word om weer eens die huidige stelsel te vervang met ‘n nuwe elektroniese meganisme wat agter die wysers sit en hulle direk aandryf.

“Tans word die wysers aangedryf deur ‘n ingewikkelde stelsel ratte wat ver van mekaar af sit. ‘n Nuwe stelsel sal talle probleme uitskakel en dit sal ook minder onderhoud benodig.

“Maar die oorspronklike meganisme is iets besonders en moet vir die nageslag bewaar word.

"Ek het ook voorgestel dat dit aan die Paarl Museum geskenk moet word waar ek dit tot ‘n werkende toestand kan herstel.

“Sodoende kan daar gesien word hoe klokke destyds tyd gehou het met slegs ratte en gewigte en geen elektronika nie.”

* The clock in the tower of the Paarl Town Hall has been repaired and restored to its former glory.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za