Kinderdrome waar
2007-10-11
Opgewondenheid het Sondag geheers in Mbekweni met die inhuldiging van die nuwe Langabuya kleuterskool.
Dié kleurryke kleuterskool is die eindproduk van ’n projek van die sending-organisasie Cargo of Dreams. Langabuya kleuterskool is een van 27 kleuterskole wat deur die Mbekweni Early Childhood Development Forum aangewys is om opgradeer te word.
Drie maande gelede het die kinders van dié kleuterskool nog in ’n houtgeboutjie skoolgegaan. Vandag is dit ’n struktuur met toilette- en kombuisgeriewe wat in skeepshouers ingerig is, met ’n saaltjie in die middel.
Die oprigting is aangepak met die hulp van die lidmate van die NG Kerk Paarlberg.
Volgens die projekbestuurder, Marius van der Colff, hang dit nou van Mbekweni gemeenskap af om die onderhoud van die gebou self te onderneem.
Soortgelyke projekte sal nou by ander kleuterskole in Mbekweni aangepak word.
“Nonquebela kleuterskool is die tweede kleuterskool wat opgradeer sal word. Die verskepingshouers wat gebruik word om die kleuterskool op te gradeer staan tans by die NGK Wellington.
“Dit sal so ’n maand en ’n half neem om hierdie kleuterskool te voltooi.”
Die derde kleuterskool wat Cargo of Dreams gaan opgradeer, is Little Flower kleuterskool, ook in Mbekweni.
“Daar is alreeds met die gemeenskap gepraat oor hierdie kleuterskool. So dinge is aan die rol.
"En eersdaags sal hierdie kleuterskool ook opgradeer word.”
Die vraghouers word in Amerika omgebou deur gemeentes daar en dan na Suid-Afrika verskeep.
Hier is verskillende kerkgemeentes tesame met die gemeenskap van Mbekweni betrokke met die installasie en voltooiing van die skole.
Die gemeenskap moet eienaarskap en verantwoordelikheid aanvaar vir elke kleuterskool.
More
News
|