Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Aksie by die Meul

Aksie by die Meul
 
2007-10-11


REIS saam met die bekende skrywer Marita van der Vyver in die toneelstuk “Bestemmings”, môre om 20:00 by die Ou Meul-teater in die Paarl.

Dié bekende en geliefde skryfster se verhale vind nou ook ’n tuiste op die verhoog met die verwerking van uittreksels uit haar onlangse boek, Bestemmings.

Joanie Combrink en Susanne Beyers, bekend vir hul optredes in vele Woordkunsprogramme byvoorbeeld Susanna die Geliefde, Dalk is ons almal so en Die Uurwerk kantel, neem die gehoor hierdie keer op ’n reis na Egipte, die Seychelles, Europa en Amerika.

Saam met regisseur Juanita Swanepoel verken hulle nie net dié vreemde wêrelde nie, maar gaan ook op ’n binnereis en kom uiteindelik tuis in die harte van almal wat verlang om êrens te behoort.

Die produksie word vir ’n volwasse gehoor aanbeveel.

Kaartjies kos R65.

* Saterdag om 10:00 is dit Kinderteater met Prinses Jana en die Brullebak.

Die toneelstuk is net so energiek en kindervriendelik soos sy voorgangers, “Prins Dirkie en die Teekoppie Koning”, “Prinses Mientjie en die Ruimtemaniak”, “Prins Thomas en die Willewragtag” en “Prins Dirkie en die Seerower Kat”.

Prinses Jana kyk heeltemal te veel televisie. Die koning het al gesê sy sal regtig vierkantige oë kry! Maar vir die klein prinsessie is daar niks wonderliker as die bewegende prentjies nie.

Wanneer die “remote control” eendag spoorloos verdwyn, kom Prinses Jana op ’n geheime televisie- wêreld af, ’n wêreld waar die nare Brullebak sy eie slinkse planne het om al die kinders sy slawe te maak!

Maar hoekom klink dit alles so vreeslik bekend?

Geskryf deur Anna Emm. Regie deur Adele van de Venter en liedjies deur Jani Coetzee.

Kaartjies is R30.

* Saterdag om 20:00 tree Louis Loock op.
Voeg bymekaar ’n fluweelstem en ’n onvergeetlike musiekpogram en jy kry ’n opvoering wat jou hart sal warm maak en jou tone sal laat omkrul van lekkerkry.

Liedjieskrywer, sanger en sangsensasie Louis Loock sing treffers soos O Solè Mio, Una Furtiva Lagrima, asook gunstelinge soos O Boereplaas, Op my ou Ramkiekie en Karoonag vorm deel van die program.

In hierdie opvoering kan Louis Loock nie anders as om die gehoor te betower met sy swewende, liriese stem nie.

Sy eie liedjies soos Nog net eenkeer, Sommer net asook ’n unieke toonsetting van N.P. van Wyk Louw se Nog in my laaste woorde is deel van die program wat gehore meëvoer en vermaak.
Kaartjies kos R80.

* Woensdag 17 Oktober om 20:00 is die à capella groep van nege, Adamsappel, op die verhoog.

“À capella” beteken letterlik “in die styl van die kapel” wat sang sonder instrumente aandui.

Dit beklemtoon die harmonie van nege unieke stemme en uiteenlopende persoonlikhede.

Die à capella-styl stel die kunstenaar bloot, maar dit stel hom ook vry. Adamsappel hou die fyn balans tussen die twee pole.

“Ons stemme is ons instrumente,” sê die lede.

“Hulle word bespeel deur die woorde uit ons lippe, nageboots deur ons bewegings en gedirigeer deur ons gehoor.

Kaartjies is R70.

Skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056 of e-pos vstemmet@gmail.com.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za