Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Skuldig of onskuldig?

Skuldig of onskuldig?
 
2005-06-09

Malané Bosman

HY weet nie of hy skuldig of onskuldig gaan pleit nie, het ’n pa Maandag in die Paarl landdroshof gesê op die aanklag van verkragting en moord op sy tweejarige dogter.

Shaun Simon Arendse (21) staan tereg op dié aanklagte nadat klein Cameron Chordnum die oggend van 21 Mei leweloos uit sy bed in Impalastraat, Chicago, gehaal is.

Die kort, frisgeboude man het by tye senuagtig voorgekom, met kaalgeskeerde kop, songeel hemp en sweetpakbroek in die beskuldigdebank.

Sy moeder, Winnie Arendse, en gesin, het stil in die besoekersbanke gesit toe hy met geknars van sleutels en staaldeure uit die hofselle gebring is.

Die ondersoekbeampte, insp Graham Adams, was selfversekerd in die hof terwyl prokureur Christelle Hermann die borgaansoek gelei het.

’n Verdere aanklag van verkragting, dat Arendse op 6 Mei ’n 19-jarige vriendin twee keer in sy kamer sou verkrag het, is by die hofrol gevoeg.

Dié saak is daardie selfde aand weer teruggetrek. Hermann is oortuig dat dié saak nou weer aanhangig gemaak is en by die klagstaat gevoeg is “om die saak dikker te maak”.

Op dié stelling het die Arendse-gesin bevestigend gesteun.
Arendse pleit onskuldig op hierdie aanklag van verkragting.

Die hof is ingelig oor ’n vorige veroordeling, 'n 18 maande vonnis wat vir vyf jaar opgeskort is nadat Arendse in Desember 2004 op ’n aanklag van aanranding met 'n mes, skuldig gepleit het.

Hy was toe vir agt maande saam met drie medepligtiges verhoorafwagtend in hegtenis.

Op ’n vraag van sy prokureur of hy besef uit watter voorval die moordklag spruit, het Arendse handewringend geantwoord: “My baba.”

Hy het aan die hof verduidelik dat hy “by my ma moet luister” vir die betaling van die borg aangesien hy met sy vorige inhegtenisname vir die aanranding sy werk as sjef verloor het en sedertdien werkloos is.

“Ek weet self nie. Ek wil nie nou daaroor praat nie,” het hy geantwoord nadat landdros Dianna Blaauw gewaarsku het dat sy pleit, soos alles wat hy in die hof sê, later by die verhoor gebruik sal word.

“Ek wil vra om vrygelaat te word, dat ek in huisarres kan wees. Ek wil buite wees om by my kind se graf te kan kom,” het Arendse aangedaan versoek en swaar gesluk.

“Ek was lief vir haar."

Hy het verder gesê: "Dit voel nie lekker in die tronk nie, en ek kan nie hier werk soek om met die huishouding te help nie.”

Hy het aan die hof verduidelik dat hy al vyf jaar ’n verhouding met die moeder van sy kind het, maar dat hulle nie saamgewoon het nie, “want haar ouers sal dit nie toelaat nie”.

Die baba het naweke op haar eie versoek en dié van haar moeder en haar ouers, by hom gebly.

“Sy was nooit sonder toesig nie. As sy nie by my was nie, was sy by my ma.”

Winnie Arendse is na die getuiebank geroep.

Sy het byna onhoorbaar getuig dat sy met haar ongeskiktheidstoelae van R700, weens hoë bloeddruk, sorg vir die R195 huur en die onderhoud van haar twee seuns, dogter, suster en dié se baba.

Sy sal die borg betaal met hulp van 'n dogter wat nie meer in die huis is nie en wat ’n babatoelae kry.

“Shaun sou die Maandag begin werk het. Ek was so bly, want vandat hy in die moeilikheid was as gevolg van die aanranding, het hy nog nie gewerk nie. Ek kan nie met die toelae uitkom nie.”

Op ’n vraag of daar ooit probleme was tussen die baba se moeder en haar seun, en of die baba gereeld by haar gekuier het, hy sy met ’n snik begin huil.

“Hulle was soos mense wat vir mekaar lief is,” het sy gesê.

Speur-insp Adams het borg opponeer op die gronde van “sterk omstandigheidsgetuies teen die beskuldigde en forensiese materiaal wat geanaliseer word".

Hy meen intimidasie van getuies is die “norm in Paarl-Oos” en daar is altyd ’n vlugrisiko wanneer die beskuldigde besef watter hoë vonnis in die hooggeregshof opgelê kan word.

Toe insp Adams getuig daar is “altyd kans dat die gemeenskap die reg in eie hande kan neem teenoor die beskuldigde”, het Arendse se ma saggies die hof verlaat.

Sy het later weer ingekom, net toe insp Adams getuig hoe hy haar en haar seun die Saterdagoggend by die hospitaal ontmoet het.

“Hulle was geskok en het gehuil en aan my gesê dat hulle met ’n geleentheid hospitaal toe is nadat die babatjie nie wou wakker word nie.”

Toe prokureur Hermann die vraag stel of daar iemand kon wees wat die beskuldigde op so ’n wyse wou benadeel deur sy kind seer te maak, het sy gesin dit hoorbaar beaam.

Op versoek van insp Adams het die forensiese laboratorium ingestem om sy saak derde te verwerk pleks van ná die 370 sake op die waglys.

Dit duur tot 84 dae voordat uitslae gereed is.

“Ondersoek die moontlikheid van spoediger uitslae,” het landdros Blaauw aangevra, en daarmee die borgaansoek tot 19 Julie uitgestel.

“Dit is ’n ongewone stap, maar dit is in die naam van geregtigheid dat die forensiese uitslae aan die hof bekend is.”

Met dié uitspraak het Arendse stadig uit die beskuldigdebank opgestaan en is hy weer na die selle onder die hof gelei.

Buite die gebou het familielede en vriende van die beskuldigde sowel as die moeder van die baba saamgekring en mekaar wedersyds ondersteun.

“Geregtigheid sal seëvier,” het hulle luid beaam.

* The father accused of causing the death of his two-year-old daughter by raping her, is still uncertain whether to plead guilty or not.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za