Paarl-Oos skitter teen Bergrivier
2007-10-11
DIE eerste krieketspan van GMT Paarl-Oos het die afgelope naweek vir Bergrivier oortuigend met ses paaltjies geklop.
Paarl-Oos het die loot gewen en die besoekers ingestuur om eerste stelling voor die penne in te neem.
Bergrivier se kolwers het aanvanklik ’n stewige houvas op die wedstryd gehad met die telling wat in ’n stadium op 90/2 gestaan het.
Die boulers van Paarl-Oos het egter hul lyn en lengte aangepas en die oorblywende agt paaltjies vir ’n skamele 45 lopies laat kantel. Jackie Daniels (6/24) en Zynodene Fredericks (3/56) het hier die grootste verwoesting gesaai.
Paarl-Oos se kolfbeurt het ook effens wankelrig begin, maar goeie vennootskappe het uiteindelik die wa deur die drif getrek. Manfred de Kok (45, 5x4) en Bruce Miller (28, 5x4) was die beste kolwers vir Paarl-Oos.
Die tweede span van Paarl-Oos het ook ’n uitstaande oorwinning behaal nadat hulle Bergrivier II vir 90 lopies uitgehaal het.
Roderick Allies (3/34), Justin Watts (2/11) en Dale Watts (4/17) het uitstekend geboul.
Paarl-Oos het die wedstryd byna deur hul vingers laat glip met ’n kolfvertoning wat nie veel beter as hul teenstanders s’n was nie, maar het uiteindelik die wedstryd goed afgerond toe hulle die teikentelling in die 28ste beurt behaal het.
Dane Schoor (21, 1x4) en Wilton van Neel (27, 3x4) was Paarl-Oos se beste kolwers.
* Paarl-Oos I en II speel hierdie naweek ’n wegwedstryd teen Young Peoples by Daljosafat-stadion.
Die derde span speel teen Northdene II op Kraaifontein.
Spelers van die derdespan word versoek om asseblief oefeninge by te woon.
More
News
|