Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Kies tussen lewe en dood

Kies tussen lewe en dood
 
2005-06-09


DEUR die “suinigheid” van die Departement van Gesondheid moet Paarlse ambulansmanne nou besluit wie lewe, en wie word gelos om te sterf.

“Dit klink kras,” het ’n ambulansman gesê. “Maar dis die werklikheid. Ons kan nie aan al die noodgevalle aandag gee nie, en lewens word in gevaar gestel.

“Ons het die voertuie, maar ons het nie personeel om die ambulanse te beman nie.”

Elke skof het sy getal personeellede. Wanneer ’n ambulansman siek, op kursus of met vakansie is, is daar niemand om sy plek te vul nie.

“Provinsie weier om oortyd te betaal, daar is glo nie fondse nie. Mens kan nie verwag dat ’n personeellid sy vakansie met sy gesin onderbreek om sonder vergoeding in te staan vir ’n kollega op kursus nie.”

“Maar dit is nie maklik wanneer die publiek skel omdat ons nie ’n geval kan bywoon nie, en veral nie wanneer ’n pasiënt kan sterf omdat ons nie paramedici beskikbaar het nie.

“Die polisie help met die vervoer van minder ernstige slagoffers, maar ons wil nie pasiënte afskeep waar paramediese hulp die verskil tussen lewe en dood beteken nie.”

Die ideaal, soos deur Provinsie bekragtig, is drie ambulanse daagliks week op die pad, en vier oor naweke. Tans is daar sommige naweeksaande net een ambulans beskikbaar.

Die nag toe twee jong vroue op die Agter-Paarlpad by Nelsons’s Creek in ’n motorongeluk gesterf en vyf vriende beseer is, was daar personeel om net een ambulans te beman.

“Gelukkig was daar ’n ambulans van Stellenbosch met ’n broeikas na die Paarl onderweg, en kon hy gaan help,” het ’n ambulansman gesê.
“Maar vir die ongelukslagoffers en hul gesinne, was dit ’n geval van ‘te min, te laat’.”

Daar is nou 70 nuwe ambulansmanne in Kaapstad in diens geneem, sê Paarlse ambulanshoof Coby Fortuin.

“Dis ook Paarlse aanstellings wat in die Kaap ontplooi is. Hier by ons is nie ’n enkele addisionele ambulansman nie.”

Dr Breslau Kruger, administrateur van die Paarl Hospitaal, beaam die “kritieke behoefte” aan personeel en infrastruktuur.

“Die behoefte vir noodtransport is groter as die beskikbare fondse. Minister Pierre Uys gee egter aandag aan die probleem."



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za