Drastiese veranderinge vir Paarl rugbyklubs
2007-10-11
AGT rugbyklubs in die Paarl het verlede week aangedui dat hulle die konsep van die Paarl Streekspan ondersteun en aanvaar.
Allandale, Lower Paarl, Riverstones, Vineyards, Voilets, Young Gardens, Young Standards en Windmeul United het onderneem om in 2008 in 'n plaaslike kompetisie, onderhewig aan die jurisdiksie van WPRFU, teen mekaar mee te ding.
Die Paarl Streekspan sal op sy beurt in 'n WPRFU streekspankompetisie met agt ander streke meeding.
Die Streekspan sal slegs uit spelers van die klubs wat aan die plaaslike streekkompetisie deelneem gekies word.
WPRFU steun hierdie inisiatief en is in lyn met die unie se voorneme om in die toekoms meer te konsentreer om geleenthede vir spelers te skep, talent vroegtydig te identifiseer en belangstelling in rugby by die gemeenskap te bevorder.
Die Paarl Streekspan sal bestaan uit twee senior spanne en 'n o.20-span.
Die interim Paarl Streekkomitee sal nou vervang word met 'n uitvoerende bestuur wat uit die voorsitters van die agt betrokke klubs bestaan.
Die WPRFU unie het ook op die vergadering onderneem om die Streekspanne die geleentheid te gee om in voorwedstryde vir die Stormers en WP op Nuweland te speel.
Die WPRFU is ook van mening dat die Paarl Streekkonsep uitgebrei moet word na junior rugby in die streek.
* Enige ander klubs wat wil deel in die streekspankonsep het nog tot einde Oktober die geleentheid om met die WPRFU te skakel.
More
News
|