Drie in 'n ry vir Biermanns
2007-10-11
Malané Bosman
DIE Biermanns van die Paarl het dit drie in ’n ry gemaak - nie net was pa Hugo jare gelede hoofseun van Boishaai nie, maar toe volg altwee sy seuns in sy voetspore.
Ds Hugo Biermann, leraar in die Paarlberg NG-gemeente, was in 1973 hoofseun van die Hoër Jongenskool.
Die oudste seun, Reinhardt, het vanjaar die hoofseunbaadjie met trots gedra.
En verlede week is die nuus oorgedra aan die jongste, Hugo - dat die eer van hoofseun ook hóm toekom.
“Ons is oorweldig,” het ma Mariette ná die aankondiging gesê. “Dit voel soos ’n present wat ons gekry het. Ek weet hoe verskriklik baie tyd dit van die kinders verg, maar dan besef ek ook hoeveel dit vir hulle beteken en hoe geweldig baie hulle daardeur leer.”
Dit was 37 jaar gelede dat ds Hugo sy ouers en grootword-dorp, Vanwyksvlei in die Karoo, moes agterlaat om sy hoërskoolloopbaan uit die skoolkoshuis in die Paarl te voltooi.
Hy weet vandag nog nie hoekom hy juis as hoofseun gekies is nie. “Dalk was ek in die onderwysers se goeie boekies?” spot hy hierdie week.
“En vandag, as ek sien hoeveel pligte die prefekteraad het, dink ek ons het destyds nie veel gedoen nie. Ek onthou net hoe die skoolhoof altyd geraas het omdat ons nie die rokers kon vang nie.
“Die onderwysers het destyds nie maklik gesag uit hul hande laat gaan nie, maar vandag dra die leerders baie meer verantwoordelikheid.”
Reinhardt (18) stem saam. Die hoofseun moet vandag eie inisiatief aan die dag lê, organiseer, toesprake hou, by bestuursraadvergaderings insit.
“Dit het goed gegaan vanjaar, met almal wat saamwerk en die hoofseun wat eintlik namens die prefekteliggaam praat,” sê Reinhardt.
“Terwyl voldoende akademiese voorbereiding ’n probleem bly in skole, is die grootste uitdaging vir prefekte dat orde gehou word. “Kinders kom met so min respek in die skool, en dan is dit baie laat om respek te kweek.
“’n Ander groot uitdading vir die prefekteliggaam is om die wil tot deelname, betrokkenheid, aan te wakker.”
Volgende jaar gaan Reinhardt B.Com. met regsvakke aan die Universiteit van Stellenbosch studeer terwyl hy in Dagbreek inwoon. Nou is dit Hugo (17) se beurt om die leerder-leisels by Boishaai oor te neem.
“Ek besef die hoogste bome vang die meeste wind,” sê hy terwyl sy broer instemmend glimlag.
“Ons is nie engeltjies nie, maar ons weet waar om die lyn te trek. “My visie vir Boishaai is dat almal saamstaan, dat almal saamwerk en dat almal omgee vir die skool.”
Hugo dink ook daaraan om ná matriek die Biermann voetspore te volg en op Stellenbosch ingenieurswese te studeer.
“Maar eers is dit skoolwerk,” herinner ma Mariette met ’n trotse kyk na die drie manne in haar lewe, want die leerdery kry maar ’n knou met die verpligtinge van ’n hoofseun.
* Both sons of a church minister have followed in his footsteps, as head boys of Boys’ High School.
More
News
|