Pizza sy ondergang
2005-06-09
GULSIGHEID was die ondergang van ’n jong man van Paarl-Oos wat ’n bestaan maak deur pizzas onwettiglik te bekom.
Lorenzo Joshua, alias “mnr Waterfall van Houtkapperstraat”, het die afgelope drie weke pizzas ter waarde van R3 500 vir aflewering van ’n pizza-verskaffer bestel.
Ondersoek word ingestel na die moontlikheid dat ander pizzawinkels ook ingeloop is.
Kapt André Roziers van die Paarl polisie het op versoek van Debonaire’s in Lady Greystraat ’n lokval vir die verdagte gestel.
Dit was nadat hy pizzas bestel en dit by fiktiewe adresse laat aflewer het. Hy het dan verskillende kredietkaartnommers vir betaling aangebied.
By die lokval het Joshua pizzas van R200 van ’n afleweraar in ontvangs geneem. Hy was in besit van verskeie kredietkaarte.
Debonaire’s bestuurder Anastasia Lesch het verduidelik dat sy snuf in die neus gekry het toe “mnr Waterfall” verskillende kredietkaartnommers as betaling met telefoonbestellings aangebied het.
Die kredietkaarte was wettig, en die transaksies het deurgegaan, maar dit was nie op die naam Waterfall van Houtkapperstraat 1 nie.
Hy het tot R600 se pizzas op een aand bestel, by aflewering dit op straat in ontvangs geneem en dan sommer in sakke gedruk om verder te dra.
Dit is nog nie duidelik of hy die pizzas vir vriende of vir herverkoop bestel het nie.
* A Paarlite is behind bars for defrauding a pizza delivery company out of 100 pizzas.
More
News
|