Driejarige aangeval
2005-06-09
’n DRIEJARIGE meisie het die naweek bebloed en modderbesmeerd uit ’n wingerd by Wellington gestruikel nadat sy verkrag is.
Die geroep van haar pa het die verkragter moontlik van stryk gebring sodat sy kon ontsnap, meen inwoners van die plaas op die Hermonpad waar die meisietjie aangeval is.
’n Man het vroeër die Saterdagaand vir haar pa en ma wyn gebring na die werkershuise, en saam gekuier totdat die ouers beluit het om êrens anders verder te gaan kuier.
Die verdagte het na bewering gesê hy sal bly om hul driejarige dogter, nog twee driejariges en ’n sewejarige meisie op te pas.
Toe die pa kort voor middernag by die huis opgedaag het, was sy dogtertjie skoonveld.
Hy het gesoek en geroep toe die kleintjie uit die wingerd gestrompel kom. Sy was met modder besmeer, haar neus het gebloei vermoedelik van ’n vuishou, en daar was kneusings aan die kant van haar gesig.
Sy het vertel hoe sy uit die huis weggeneem is, verkrag is, en hoe sy in die rigting van haar pa se stem kon hardloop.
’n Mede-plaaswerker (24) is dieselfde nag nog deur insp Brucene Beukes van die Paarlse Eenheid teen Seksuele Misdrywe in hegtenis geneem.
Hierdie week het die 20-jarige moeder, ook ma van ’n ses-jarige, in die deur van haar plaaswerkershuis gestaan en die polisie-ondersoekers aanskou.
’n Border Collie van die Pretoriase polisie hondeskool is Dinsdag deur sy geleier, kapt Bokka Nel, na die plaas gebring. Hy is een van net drie honde in Suid-Afrika wat spesiaal opgelei is om liggaamsvloeistowwe op te spoor.
Hendrik is uit die polisievoertuig laat spring. Hy het ’n tuig aangekry, en op die soek-bevel het hy ry vir ry die wingerd begin deursnuffel.
Vyf minute later het Hendrik gaan lê en haar baas stip in die oë gekyk.
Hy het die plek gekry waar die dogtertjie verkrag is, en daar het die ondersoekers toe ook forensiese getuienis van die misdryf kon kry.
* A special sniffer dog for bodily fluids was brought to a Wellington farm to assist in the investigation of the rape of a three-year-old.
More
News
|