Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Bokke kan dit doen, sê De Villiers

Bokke kan dit doen, sê De Villiers
 
2007-10-18

Lise Beyers

DIE Springbokke kan beslis Saterdag vir Engeland die loef afsteek in die Wêreldbeker-eindstryd, meen plaaslike rugby-afrigter Peter de Villiers wat ’n kandidaat is om in Jake White se spore te volg as Springbok-afrigter.

Verlede naweek is die land se grootste afrigtingpos weereens in ’n Sondagkoerant geadverteer en die kanse lyk al hoe skraler dat White gaan heraansoek doen vir sy pos.

In die gange van SA Rugby word De Villiers se naam dikwels geuiter as daar bespiegel word oor White se opvolger.

De Villiers het egter ’n geruime tyd gelede laat weet dat hy reg is vir dié reuse taak.

“Ek dink dat ek myself reeds as afrigter bewys het toe die o.21 Springbokke onder my leiding die IRB se o.21 rugbytoernooi gewen het.

“Ek wil graag die spel aan die mense teruggee en aan ieder en elke speler die geleentheid gee om ’n Springbok te kan word.

“Tans is die geleentheid slegs beskikbaar vir ’n geslote groep, maar daar is geweldig baie talent dwarsoor die land en ek wil ’n sisteem bewerkstellig waar hulle ook raakgesien kan word.”

De Villers was voorheen ook afrigter vir Curriebekerspanne, die Valke van Gauteng en Olifante van die Oos-Kaap.

Vanjaar was hy hulpafrigter van die Stellenbosch Maties.

Tussen sakebelange wat vir hom dikwels na Johannesburg neem, bly De Villiers egter ’n stoere Paarliet.

“As die pos van Springbokafrigter wel na my kant toe kom, sal ek gemaklik in die Paarl kan aanbly, want die stoel is by Nuweland.
“Maar ek vat dit een dag op ’n slag.”

En oor die Bokke se vertoning tot dusver in die wêreldbeker?

“Alhoewel ek een of twee probleempies in die span kan raak- sien, skitter hulle op die veld.

“My grootste bekommernis is egter die feit dat hulle nie die skrums oorheers nie.

“Ons slotte is geweldig sterk, maar iets daar is fout.

“In die geheel is die Springbokke baie sterk en vol talent. As hulle Saterdag die geleenthede benut wat hulle gegee word en deurgaans druk op Engeland plaas, dan sal die beker huis toe kom.”

En as die wiele draai soos wat De Villiers dit graag sal wil hê, sal daar binnekort nog ’n Springbok in die Drakenstein se geledere pronk.

* Local rugby coach Peter de Villiers, has applied for the position as Springbok rugby coach.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za