Voorkom stille epidemie
2007-10-18
OEFENING is nie net goed vir jou spiere nie, dit vorm deel van ’n gesonde leefstyl wat help om weerstand te bou teen siektes soos osteoporose.
“’n Gesonde leefwyse behels ’n gebalanseerde dieet ryk aan suiwelprodukte en kalsium, die gebruik van kalsium- en vitamien D-aanvullings, gereelde gewigdraende oefening, matige gebruik van alkohol en geen tabak nie,” sê dr Connie Snoek van die Instituut vir Osteoporose.
Buiten ouderdom, speel onder meer vroeë menopouse (jonger as 45 jaar), langtermyn-kortisoongebruik, die misbruik van alkohol of tabak, lae kalsiuminname en ’n geskiedenis van vorige frakture ook ’n rol in jou risiko vir osteoporose.
Ondergewig mense en mense met ’n familiegeskiedenis van osteoporose, asook langafstandatlete en balletdansers val ook in die hoë risiko-kategorieë.
Die Instituut vir Osteoporose beveel aan dat mense wat in een of meer van die bogenoemde risiko-kategorieë val, 'n beendigtheidstoets ondergaan om te bepaal of hulle osteoporose het.
Na aanleiding van die resultate van die beendigtheidstoets, kan aanbevelings gedoen word oor die behandeling van osteoporose.
Die Instituut vir Osteoporose bied môre en 26 Oktober gratis inligtingsessies by die Louis Leipoldt Hospitaal aan.
Die siektetoestand, voorkoming en behandeling word dan volledig deur ‘n kundige bespreek.
Gelukkige trekkings gaan ook plaasvind, en gaste kan gratis beendigtheidstoetse wen.
Vir meer inligting, skakel 021-948-9682.
More
News
|