Hillcrest bevorder na Superliga
2007-10-18
Jacques Rossouw
ONDANKS die opspraakwekkende geweldstonele wat Saterdag binne die kroeg van Boland-stadion uitgebreek en verder in die straat buite die hekke afgespeel het, het die eerste span van Hillcrest United Rugbyklyb daarin geslaag om die kampioene van die Boland se Presidentsliga te word.
Die Wellingtonners het tydens 'n redelike gemaklike finaal 18-3 met Velddrif afgereken om sodoende hul droom te verwesenlik.
Hulle het nie net die liga gewen nie, maar het ook met hierdie sege dit reggekry om na die Superliga bevorder te word.
Die wedstryd het snaaksgenoeg in 'n goeie gees plaasgevind met nie 'n enkele geelkaart wat uitgedeel is nie.
Die voorspelers van Hillcrest het deurgaans domineer om hul agterlyn op die voorvoet te plaas en van oorgenoeg balbesit te voorsien.
Buiten die gedissiplineerde spel en rotsvaste verdediging is die goeie aanvalspatrone afgerond met drieë deur Jerome Coetzee en André Andrews.
Conroy Gertse het die veelsydigheid van sy skopskoen ten toon gestel deur 'n doel-, skep- en strafskop deur die pale te jaag.
More
News
|