Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Boland-rugby wéér bloedneus

Boland-rugby wéér bloedneus
 
2007-10-18

Jacques Rossouw

TONELE van geweld het die afgelope naweek by die Boland-stadion op Wellington afgespeel toe twee rugbyklubs mekaar ná ’n klubfinaal in die kroeg onder die pawiljoen getakel het.

Die span van Black Leaves (Gansbaai) het hul teenstanders Grabouw tydens die finaal van die Boland se Superliga geklop.

Ná bewering was een van die Black Leaves-spelers die vonk wat gemoedere laat vlamvat het waarna die spelers en van die toeskouers klaarblyklik ook betrokke geraak het.

Aubrey Petersen van Hillcrest Rugbyklub op Wellington het gesê die voorval was heeltemal verwyderd van die rugby self.

“Die stryery het in die kroeg begin en later by die hekke uitbeweeg in die straat,” het Petersen verduidelik.

“Die geveg het niks met die Boland-OP-wedstryd te doen gehad nie en was uit-en-uit net tussen Black Leaves en Grabouw.”

Petersen het verder gesê bewerings dat spelers van Hillcrest ook by die geveg betrokke was, nie heeltemal korrek is nie.

“Ons spelers wou net die bakleiery opbreek.

"Een van ons ouens is om een of ander rede deur 'n man van Black Leaves aangeval.

"Ons het ons klub se mense net probeer beskerm.

"Daar was vroue en kinders wat daar rondgestaan het.

"Die sekuriteit by Boland-stadion was nie bereid om betrokke te raak nie.

“Ons sal maar wag en sien wat Boland gaan besluit om te doen voordat ons enige besluite neem.”

Talle spelers en toeskouers is glo ná die insident vir mes-, panga- en glaswonde behandel en van die moeilikheidmakers is ook na die tyd in hegtenis geneem.

Bradley Haker (23) van Black Leaves Rugbyklub het gister in die hof op Wellington verskyn in verband met dié voorval.

Die president van Boland Rugby Unie, Jackie Abrahams, het gesê hy weet nie waar die bakleiery begin het nie.

“Op die rugbyveld self het daar niks gebeur nie. Daar was nie eens een geelkaart die hele dag gewees nie.

“Dit is die veertiende jaar wat die klubfinale hier aangebied word en dit is die eerste keer dat hierdie ongevraagde insident plaasgevind het.

“Ek weet nie waar om te begin nie. Dit is nog onseker watter element die oorsaak van die bakleiery was.”

Abrahams het verder gesê dat Boland slegs ’n besluit kan neem sodra die betrokke klubs hul verslae rondom die voorval ingedien het.

Hy het ook bygevoeg dat hierdie voorval die naam en beeld van Boland-rugby onberaamde skade berokken het.

Die Boland Rugby Unie het blykbaar al die betrokke klubs versoek om hul verslae teen Vrydag in te handig.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za