Beslissings kelder Paarl-Oos
2007-10-25
DIE eerste krieketspan van GMT Paarl-Oos het die afgelope naweek blykbaar swaar onder die besluite van ’n skeidsregter deurgeloop tydens hul wegwedstryd teen die gekombineerde span van Vredenburg en Saldanha.
Die Paarliete het die tuisspan ingestuur om eerste te gaan kolf en het ten spyte van wisselvallige beslissings steeds daarin geslaag om hul teenstanders tot 173 in die toegelate 60 beurte te beperk.
Elroy Abrahams (2/38), Waylon September (4/43) en Huber Ontong (2/32) het onder omstandighede uitstekend gevaar met die bal.
Paarl-Oos se kolfbeurt het baie wankelrig begin nadat hulle twee paaltjies verloor het sonder om enige lopies aan te teken.
Bruce Miller (41, 6x4), Ferdi Jonathan (38, 4x4), Jackie Daniëls (30, 2x4) en Wilton van Neel (20, 3x4 en 1x6) het daarna goed gedoen om die besoekers weer op koers te bring, maar dit was ongelukkig nie genoeg om die wedstryd in hul guns te swaai nie.
Die tweede span van Paarl-Oos het egter wraak geneem nadat hulle Vredendal/Saldanha met 108 lopies vernietig het.
Alhoewel die besoekers nie met hul beste kolfvertoning vorendag gekom het nie, het hulle tog daarin geslaag om ’n totaal van 187 lopies op die telbord te sit voordat almal in die 53ste beurt uitgehaal is.
Jenovan Adams (54, 6x4), Rohan Solomons (32, 1x4 en 3x6) en Garland Goliath (25, 4x4) het goeie bydraes met die kolf gelewer.
Die Paarliete se boulaanval was egter die deurslaggewende faktor wat die Weskus-manne tot hul knieë gedwing het.
Die tweeling Jade (5/28) en Wade Adams (3/22), wat nog steeds op skool is, het die wedstryd op sy kop gedraai en ’n goeie oorwinning vir Paarl-Oos gesorg.
* GMT Paarl-Oos I en II speel Saterdag tuis teen Paarl Krieketklub. Die plek is nog nie vasgestel nie.
More
News
|