Hy's giftig soos Cobra, maar wil graag blom soos Protea
2007-10-25
Jacques Rossouw
Die wenners van die Paarl Post se Sportsterre van die jaar is verlede Donderdag tydens 'n spoggeleentheid by Nelson's Creek aangekondig. Hulle is Shiela Panyeka (senior sportvrou, karate), Lauren Esterhuyse (junior sportvrou, karate en krieket) en Sivuyile Caleni (junior sportman, olimpiese styl boks).
***
OPWINDEND. Talentvol. Belowend. Hierdie is woorde wat nie naastenby genoeg gewig dra om die potensiaal van krieketspeler Stiaan van Zyl (20), Paarl Post se senior sportman van die jaar, behoorlik te beskryf nie.
Dié bekwame top-orde kolwer en naatbouler het vroeër vanjaar die SA o.19 span verteenwoordig, sewe eersteklas wedstryde vir Boland gespeel en ook gedurende die afseisoen diens gelewer vir die Ierse klub, London Dairy.
Hy het onlangs ook saam met die Cape Cobras getoer waar hy twee vier-dag wedstryde teen die Warriors en Titans gespeel het.
Alhoewel die Cobras nie die mas teen die Warriors kon opkom nie, het Van Zyl onder geweldige druk uitstekend gekolf vir sy 13 (tweede hoogste telling van die beurt) en 38 lopies.
Sy vernuf het egter in die daaropvolgende wedstryd teen die Titans die kenners laat regop sit nadat hy 74 en 67 lopies teen dié gedugte span opgestapel het.
Wat veral beïndruk het, was sy vermoë om te fokus ten spyte van giftige tonge om die paaltjies.
"Dis vir my 'n groot eer om saam met die Cobras te speel. Ouens soos Ashwell Prince is altyd bereid om te help en hulle het my so te sê dadelik as deel van die span aanvaar. Een ding is vir seker, hierdie ouens is baie professioneel. Ek leer ongelooflik baie."
Bo en behalwe die Paarl Post se toekenning, is Van Zyl ook onlangs aangewys as Wellington Krieketklub en die Boland Krieketraad se speler van die jaar.
"Dit was 'n lekker gevoel toe ek hoor dat ek aangewys is as sportman van die jaar. Ek was bly en opgewonde en dit is definitief iets waarop ek baie trots is," het Van Zyl gesê.
Wat die toekoms betref, is Van Zyl oorgehaal om sy krieket nóg verder te neem.
"Ek weet nie of ek vir die Proteas gekies sal word nie, maar ek sal baie graag eendag vir hulle wil speel."
Van Zyl geniet ook 'n verskeidenheid van sporte en is veral lief vir visvang en gholf, maar sê dat een van sy grootste drome is om as loods te kwalifiseer.
More
News
|