Swaarkry met lekkerkry klaargekry
2007-10-25
TOE Bovlei se direksie besluit het om 'n groot makietie te hou vir die kelder se 100ste bestaansviering vanjaar, sou ’n tent voor die pragtige proelokaal van die wynkelder opgeslaan word.
Al die lede van die kelder sowel as verspreiders binnelands en buitelands is genooi.
Almal het skouer aan die wiel gesit en daar is gewerkskaf dat die biesies bewe om alles gereed te kry.
Drakenstein Munisipaliteit is op kort kennisgewing versoek om asseblief die Bainskloofpas wat voor die kelder verbyloop, skoon te maak.
Skaars ’n dag of wat later het ’n span skoonmakers opgedaag. Hulle tel nie net rommel op nie, maar sny ook die gras en vee die plek pragtig skoon.
Baie dankie aan ieder en elk wat gehelp het. Ons is trots op die Drakenstein Munisipaliteit.
Die tent word opgeslaan Woensdag 17 Oktober. Elke gaatjie en kolletjie is spierwit skoongemaak.
Dié nag kom die oostewind op en toe ons Donderdagoggend half ses daar kom, toe hang die tent aan flarde. Tentpale swaai in die lug rond en oral is net stof, blare en gemors.
’n Wind gaan egter nie die personeel en direksie van Bovlei onderkry nie.
Hugenote Hoërskool word gebel vir die gebruik van die skoolsaal. Wessel Moolman sê onmiddellik: “Sekerlik, julle is welkom, gratis en verniet.”
’n Bloemiste in die Paarl word gekontak, want toe verander die aard van die versierings. Anton en Antoinette versit onmiddellik berge om die skoolsaal te versier.
Saam met die spyseniers Hein en Isabel du Toit word alles binne ure van Bovlei wynkelder verskuif na die skool.
Ek is met diepe dankbaarheid vervul oor al die ondersteuning, liefde en geduld wat ons ontvang het die pas afgelope week.
Daar is maar net weer bewys wat ’n wonderlike plek Wellington is.
Sy mense is sout van die aarde en met so baie liefde in hulle harte, kry ons gou swaarkry met lekkerkry klaar.Baie dankie aan almal wat gehelp het om ’n sukses van die funksie te maak.
Anna Cillié
More
News
|