Neusie verby vir Gardens
2005-06-09
’n DERDE agtereenvolgende nederlaag het Saterdag Young Gardens Rugbyklub se hoop om die WP se Divisie 3 te wen, finaal in die grond getrap.
Dit was Windmeul United wat met ’n 12-3 sege in die Agter-Paarl die Rooi Rose se drome aan skerwe gelê het.
Dit was Gardens se swakste wedstryd van die seisoen, met die besoekers se spelers wat maar verlep voorgekom het teen ’n begeesterde Windmeul-span.
Die tuisspan het behoorlik hul stempel op die wedstryd afgedruk. Isaac de Jager voorlangs en Randall George in die agterlyn, was die enigste twee Gardens-spelers wat goed vertoon het.
Windmeul het met beter balverspreiding gespog en danksy Ricardo Cornelissen se skopwerk is Gardens telkens gedwing om om te draai.
Windmeul het rustyd 5-3 voorgeloop nadat Gardens se Jeremy Koukom eers ’n strafskop oorgesit het en Jason Malgas toe vir die tuisspan gedruk het.
In die tweede helfte druk Windmeul se Christopher Davids en die gepaardgaande doelskop deur Ricardo Cornelissen verseker ’n oorwinning vir die tuisspan.
More
News
|