Maak reg vir Peoples 7's
2005-06-09
DIE 15de jaarlikse sewe-aan-’n-kanttoernooi van Young Peoples Rugbyklub word Woensdagaand op Daljosafat Stadion gespeel.
Die toernooi vorm deel van die klub se 110de bestaansjaarvieringe en die reëlingskomitee het daarin geslaag om die beste klubs in die vallei bymekaar te kry.
Die kompetisie skop om 19:00 af wanneer die gasheerspan en verdedigende kampioen, Young Peoples vir Violets pak.
In wat beloof om die wedstryd van die aand te wees, pak die groot gunsteling, Albions, vir Young Gardens om 19:20.
Die twee spanne wat elke jaar vir groot opwinding sorg, Paarl Rangers en Young Standards skop om 19:40 af en ook hier sal die vonke spat.
Die nuweling in die kompetisie, Newton, kom in ’n harde vuurdoop teen die omgesukkelde span van Vineyards te staan.
Vineyards het vantevore twee keer in die eindstryd vasgeval en sal nie weer dieselfde fout wil maak nie.
Newton is egter vir almal ’n onbekende faktor en dit sal wys wees om nie die besoekers te onderskat nie.
Die eindstryd vind om 22:00 plaas en toegang is R5 vir volwassenes en motors (R3 vir kinders) en hekke open om 17:30.
More
News
|