Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Byeboer getref deur vandalisme

Byeboer getref deur vandalisme
 
2007-11-01


“’n BY is soos ’n perd. As jy met hom lol gaan hy jou skop.”
En niemand behoort dit beter te weet nie as Cassie ‘Byeboer’ Carsten (71).

Carsten boer reeds 44 jaar met dié geniepsige insekte en deur die jare het hulle binne-in sy hart gekruip.

“Al word ek steeds dikwels gesteek, weet ek dat hulle maar net moerig is dat ek tussen hulle sukkel terwyl hulle so hard aan die werk is.”

Maar tans is Carsten se hart stukkend oor die neiging van stout kinders en vandale wat sy korwe vernietig en sy swerms wegdryf.

Hierdie gesoute byeboer het talle korwe dwarsoor die Drakenstein-gebied en dis nie net dat hy genot daaruit put om heuning en was te oes nie, maar hy verskaf ook ’n waardevolle diens aan vrugteboere.

Vir dié boere is korwe in hul boorde ’n uiters belangrike deel van hul boerdery.

“Bye het nog altyd ’n groot rol gespeel in die kruis-bestuiwing van vrugtebome. Dus is daar ’n vriendskaplike ooreenkoms tussen by- en vrugteboer om korwe binne-in boorde te plaas.

“So baat albei partye en ons bedank die vrugteboer ook elke maand met ’n stewige bottel heuning vir die gebruik van hul grond.”

Die tegniek van byeboerdery is fassinerend en elke boer het sy eie geheime om seker te maak dat sy korwe die suiwerste heuning in grootmaat produseer.

Maar op die ou end is alles te danke aan die hardwerkende bye en die korwe vergemaklik net hul werk ’n bietjie.

Die onderste verdieping van die byekorf is die tuiste van koningin-by.

Sy is die alfa en omega van die swerm en hulle doen alles in hul vermoë om vir haar gelukkig en gemaklik te hou.

Sodoende produseer sy onophoudelik eiers - ongeveer 1500 per dag.

Die werkers-bye dra dag en nag nektar na haar toe aan, wat in heuning omskep word. Dit is hul stapelvoedsel.

Wanneer dié produksie te veel begin raak, begin hulle ’n fabriek bo in die korf, oftewel die heuningkas.

Die boer sal hier rame invoeg waarin die bye die heuningkoeke sal vorm. Die was word gevorm deurdat die bye wasagtige stof afskei en dit dan begin ‘brei’ om sodoende holtes te vorm waarin die heuning gestoor kan word.

Hierdie mensgemaakte korwe stimuleer hoë produksie van heuning, maar daar is altyd oorgenoeg heuning vir beide boer en by.

“Bye is seker van die interessanste, hardwerkendste wesens op die aarde. Hulle hou eenvoudig nooit op met werk nie.

“Dus is dit vir my baie hartseer wanneer daar met die swerms gepeuter word. Kwaaddoeners het al vantevore ’n hele korf in water gedompel en die ganse swerm vernietig.

“Een swerm kan bestaan uit 50 000 bye.”

Carsten het nou sy korwe vanaf Simonsvlei verskuif, want hier het hy reeds tien voorvalle van vandalisme by die polisie moes aanmeld.

“Dikwels is dit kinders wat die skade aanrig en ons het al van die kinders vir die polisie uitgewys. Maar omdat hulle minderjarig is, word hulle deur talle wette beskerm.”

Deesdae kan Carsten dikwels met sy kleindogter Ilisma (18) tussen die korwe gesien word in hul ‘ruimtepakke’.

Ilisma se liefde vir die bye is al van jongsaf geprikkel deur haar oupa se aansteeklike entoesiasme oor sy bye.

“As ek nie vir Ilisma gaan haal as ek bye werk nie, dan is ek in die moeilikheid.

“Alhoewel sy tans sport-wetenskap bestudeer op Stellenbosch is sy dikwels saam met my tussen die korwe bedrywig.

“En my hoop is dat sy eendag my 200 korwe by my sal oor- neem en hierdie kuns van byeboerdery vir die nageslag sal bewaar.”

Carsten se ander behoefte is dat kinders beter opgevoed word in bewaring en sal besef watter skade hul aanrig as hulle byekorwe beskadig.

* A local bee-keeper is up in arms about vandals who damage and even destroy his beehives.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za