Peoples trap koringboere
2007-11-01
YOUNG PEOPLES het Saterdag op Malmesbury voor etenstyd met die tuisspan klaargespeel deur die wedstryd met agt paaltjies te wen.
Puik boulwerk deur Gershian Gabriels, 4/15, en Lorenzo Jacobs, 4/18, het die koringboere tot 92 lopies beperk.
Net Lloyd Gray, 21 (1 vier) kon die tellinghouers pla. Jacobs en Gabriels het ondersteuning van die tiere se veldwerkers gekry en veral Jarrier Alexander het uitgeblink deur 3 skitterende vangskote te benut.
Peoples het kom kolf en danksy ‘n blitsige 50 deur Ian Gray die wen-telling in 20 boulbeurte behaal. Gray het sy gewese spanmaats verniel en 7 viere en 1 reuse ses gemoker.
* Peoples 11 het op Daljosafat eerste teen Malmesbury 11 gekolf en ‘n reuse 275/6 opgestapel.
Die jong Gerswin Philander het sy honderdtal met 4 lopies misgeloop en is vir 96 (7 viere ) uitgehaal.
Andrew Victor, 63 (9 viere), Riaan Damonse, 53 (7 viere 1 ses) en Warren George, 32 (6 viere) het die wilgerlat geswaai en die besoekers moedeloos geslaan.
Die besoekers het nie daarin belang gestel om die lopies te jaag nie, en onsportiewe beslissings deur hul spelerskeidsregters het Peoples van ‘n sege beroof.
Ondanks aggressiewe boulwerk deur Mark Borcherds, 3/32, Keenan Pick, 2/35 en Wayne Jacobs, 2/41, het Malmesbury vasgebyt en na 60 beurte op 149/9 geëindig.
* Die Tiere se derde span het hul teenstanders, Northdene, op Daljosafat “B™ met 9 paaljies afgeransel.
Die besoekers is vir 133 lopies uitgeboender. Jermaine Williams was die beste Peoples – bouler en het 4/43 platgetrek. Hy is bygestaan deur Westley Barron, 2/8 en Cameron Engelbreght, 1/15.
Die Tiere het lustig gekolf en danksy ‘n warrelwindbeurt deur Stanton Kamalie, 76*(13 viere), die teiken in die 20ste beurt behaal. Kamalie is bygestaan deur ‘n ewe aggressiewe James de Wet wat 7 viere in sy 45 lopies gemoker het.
* Young Peoples 1 speel Saterdag tuis teen Vredenburg/Saldanha, terwyl die tweede span na die Weskus reis teen Vredenburg/Saldanha. Peoples III speel weg teen Paarl-Oos III.
More
News
|