Lekkertews by Bien Donné
2007-11-01
DAAR sal hope pret wees vir almal by die Bien Donné landbou-expo van vandag tot Saterdag in Simondium.
Wes-Kaapse landbouers, landbounavorsers en verskaffers van die nuutste masjiene en toerusting kom byeen, met meer as 200 uitstallers.
Die uiteenlopende Afrikaanse musiekskatkis word oopgemaak en humoristies deur Ollie Viljoen en Pietman Geldenhuys aan die gehoor opgedis.
Die laaste dag word met ’n knal deur die DNA Strings afgesluit.
Die skoner geslag kan uitsien na ’n ontbyt in die geselskap van Lééf-tydskrif met skrywer Annelie Botes aan die woord, sowel as na Tuis en Home se leefstyl-tent met sy wenke vir tuisteskeppers.
Anneke Blaise bied ’n lesing oor “Wat jou tuiste vir jou beteken” op die openingsdag, terwyl Sonja Jordt (kosredakteur) op al drie dae haar "Stadige kos, stadiger pas" sal aanbied.
So ook Ashley Stemmet (Doen-dit-self redakteur) met sy “Doen dit self, die nuwe gesinsport". Dekor-redakteur Misi Overturf deel haar entoesiasme oor "Kleur-inspirasie" met besoekers op die Vrydag en Saterdag.
Kraakvars plaasprodukte is die hele duur van die skou by die plaasmark beskikbaar.
Die hekke sal van 09:00 tot 18:00 op Donderdag 1 November en Vrydag 2 November oop wees en van 08:00 tot 16:00 op Saterdag 3 November. Kaartjies kos R40 (R15 kinders bo 6).
More
News
|