Rooisokkies en die rockster by die Ou Meul
2007-11-01
MAANDAG om 19:00 bied die BreakaLeg Dramaskool van Sophia Passerini hul jaarlikse vertoonstuk aan in die Ou Meul-teater in die Paarl.
Tydens die “showcase” word die aspirant-akteurs se werk van die afgelope jaar ten toon gestel.
Die musiekblyspel, “Rooisokkie en die rockster”, word ook tydens hierdie geleentheid opgevoer.
Die Rooisokkie groep het reeds op Villiersdorp deelgeneem aan die Akkedissie Toneelfees en die produksie het groot lof ontvang van die beoordelaars.
Die groep bestaan uit leerders van verskeie skole in die Paarl en Wellington wat drama buitemuurs neem.
Die teks is uit die kreatiewe pen van Esbé Nel wat al vele skooltoneelstukke op die planke help bring het.
Daar word heerlik gespot met Afrikaanse musieksterre sonder talent, die gebruik van backtracks, vertaalde liedjies en swak lirieke.
By die Akkedissie Toneelfees is goue toekennings gemaak aan Jan-Beyers Jonker (Laerskool Courtrai) en Ayden Kruger (Hoër Meisieskool Paarl).
Silwer toekennings het gegaan aan Sophia Passerini (regie), Soria Nel (Laerskool Courtrai) en Mikyla Passerini (Laerskool Noord-Eind) en brons aan Charné van der Poel van Laerskool Noord-Eind vir spel.
Die oorspronklike musiek en energieke toneelspel deur jong toneelspelers wat rock in Afrikaans, sal vir seker in almal, oud en jonk, se smaak val.
Die begeleiding word deur Esbé Nel en Louis Nel behartig.
Kaartjies teen R25 sal by die deur beskikbaar wees.
Vir navrae oor dramaklasse, skakel Sophia by 072-954-7214.
More
News
|