Musiek in die Meul
2007-11-08
VIR die volgende twee weke sal Paarliete bederf word met vermaak uit die boonste rakke vir oud en jonk.
* More om 19:30 sal die man wat deur Laurika Rauch beskryf word as een van SA se top-liedjieskrywers, Emile Minnie, die “magic” van sy musiek bring.
Dit is ’n opskop uit ’n ander dimensie, want Emile gaan vir jou neem na plekke wat nog net diep binne jou geroer het.
Hy het die KKNK 2006 Kanna-nominasie vir Beste Musiekteater gewen, en was ’n 2006 World Song Contest finalis. Kaartjies is R50.
* Saterdag om 10:00 is dit die kinderproduksie Prinses Jana en die Brullebak.
Prinses Jana kyk heeltemal te veel televisie. Die koning het al gesê sy sal regtig vierkantige oë kry. Maar vir die klein prinsessie is daar niks wonderliker as die bewegende prentjies nie.
Wanneer die “remote control” eendag spoorloos verdwyn, kom Prinses Jana op ’n geheime televisiewêreld af, ’n wêreld waar die nare Brullebak sy eie slinkse planne het om al die kinders sy slawe te maak. Maar hoekom klink dit alles so vreeslik bekend?
Hierdie verruklike kinderstorie is ’n mengelmoes van verbeelding en beweging en is ’n moet vir alle klein rakkertjies wat ook graag op allerhande verbeeldingsreise gaan en dikwels heeltemal te veel televisie kyk. Kaartjies is R30.
* Ook Saterdag om 20:00 is dit Jeandré, Hugo Niewoudt en die Tomboys.
Jeandré (Odendaal) is ’n sangeres van die Wes-Kaap wat tans groot opslae maak met haar debuut album, “Akeldis”.
“Akeldis”, die titelsnit van die album asook verskeie ander liedere op die album soos “Hoela hey, Grootmeneer en stoksielalleen” kom uit die vernuftige pen van die liedjieskrywer Johan Groenewald.
Tesame met die skryftegniek van die sangeres en liedjieskrywer, Riana van Wyk het die twee saamgespan om Jeandré goed te laat klink met liedjies soos “Wals met my en Tata-baai”, wat eie aan Jeandré is en die kleur van haar stem baie goed komplimenteer.
Hierdie sangeres vind aanklank by oud en jonk en sal teatergangers ’n aand van genot verskaf, nie alleenlik deur na die liedjies te luister nie, maar ook om die meisie agter die liedjies in lewende lywe te sien optree. Kaartjies is R40.
* Teen dié tyd weet almal al van die jong, aantreklike superster wat soos ’n kloon van Brad Pitt lyk, Bobby van Jaarsveld, wat op Donderdag 15 November om 20:00 teatergangers sal bekoor met sy ongekunstelde gemaklike stem.
Afgesien dat hy lyk soos iemand wat pas uit ’n Hollywood-film stap, sing hy tot diep in ’n mens se hart met sy ongekunstelde, gemaklike stem.
Bobby is 20 jaar terug in die Paarl gebore en dit sal die eerste keer wees wat hy hier optree.
As jy van musiek hou wat woorde eerder as net klinkers het, kom ondersteun vir Bobby by die Meulteater. Kaartjies is R100.
Vir kaartjies en besprekings, skakel Vicky Stemmet by 083-564-0056.
More
News
|