Brandweer ‘in die knyp’
2007-11-08
DIE Drakenstein brandweer is in ‘n benarde toestand weens die gebrek aan mannekrag en toerusting.
‘n Nasionale standaarddokument reguleer die grootte, mannekrag en tipe toerusting vir die brandweer.
Die dokument, kortliks genoem SANS, bepaal dat die Drakenstein brandweer wat die omliggende omgewing van Mbekweni, Wellington, Gouda, Hermon, Simondium en Saron ook bedien onder andere oor ‘n personeeltotaal van 132 moet beskik, asook ten minste drie watertenkers en verskeie ander toerusting.
Volgens ‘n vakbond vir munisipale werkers, Imatu, beloop die personeel tans slegs 54 in die Drakensteingebied, wat beteken daar is ‘n tekort van 78 mense.
Ook die toerusting skiet ver tekort. So beskik Paarl oor slegs twee watertenkers en ly ‘n tekort aan ander toerusting en voertuie. Die situasie in Saron is selfs nog ernstiger, aangesien ‘n volledige stasie daar gebou is, maar dit onbeman staan weens die personeeltekort.
"Sulke mense word nie oornag opgelei nie - daar is 'n geweldige tekort aan ervare en professionele brandweerpersoneel,"sê Etienne Bruwer van Imatu.
Van die voertuie wat hulle het, is meer as 25 jaar oud, ten spyte van die feit dat die voorgeskrewe leeftyd vir die voertuie slegs 15 jaar is.
Volgens Imatu het hulle op verskeie geleenthede die Drakenstein Munisipaliteit gekontak om die dringende en kommerwekkende aangeleentheid te bespreek, maar kry selfs op geregistreerde briewe geen reaksie nie - alhoewel dit nou die begin van die brandseisoen is.
Die Munisipaliteit loop nou gevaar dat hy wetlik aanspreeklik kan wees indien ‘n brand nie na wense bestry kan word nie en mense skade ly, of indien ‘n brandweerman of lid van die publiek beseer of gedood word. Dit kan katastrofiese gevolge hê.
“Die situasie is kritiek en Imatu ag dit noodsaaklik om die belastingbetalers in te lig oor die feit dat die Drakenstein Munisipaliteit so min ag slaan op hulle veiligheid of die behoud van eiendom,"sê Bruwer.
“Die SANS bepalings is slegs minimumbepalings waaraan brandweerstasies moet voldoen. Die Drakensteindienste voldoen nie naastenby hieraan nie en hiervolgens word brandweerbeamptes in dié gebied daagliks in gevaar gestel.
“Die feit bly staan dat die brandweerstasies in die omgewing heeltemal te min personeel en apparaat het. Van die apparaat is ook verouderd.
“Die personeel is dikwels uitgeput en word gedwing om in uiters riskante omstandighede te werk weens ‘n tekort aan personeel.
“Om sake te vererger is daar ook nie genoeg brandweerstasies om die inwoners van Drakenstein voldoende te dien nie.
“Ons het reeds die Munisipaliteit ‘n geruime tyd hieroor gewaarsku, maar hulle reageer geensins op dié noodkrete nie.”
Die waarnemende hoof van munisipale gemeenskapsdienste, Tommy Matthee, ontken dat daar 'n krisis is.
“Wat personeel betref, is die Munisipaliteit reeds in die proses om te werk aan die personeelkomplement.
“Ten spyte hiervan word daar tans nog steeds ‘n professionele diens gelewer deur ons brandweerpersoneel en bestuur.
“Ook is voorsiening gemaak in die huidige finansiële jaar vir een watertenker en een “major pumper” ten bedrae van R3,8 miljoen.
“Prosesse is aan die gang om personeel by Saron aan te stel om toe te sien dat ‘n professionele diens gelewer word waar dit voorheen nooit bestaan het nie.
“Ons voorsien dat die stasie operasioneel sal wees vroeg in die nuwe jaar."
More
News
|