Skade aan voertuig in middedorp pla
2005-06-09
EK reageer op die brief van Hartseer Paarliet (Paarl Post 2 Junie). Ek het dieselfde ondervinding gehad van “karwagte” wat my motor gekrap het by die parkeerarea van die Wamakersvallei-winkelsentrum in die Paarlse middedorp.
My man het ons twee motors kom omruil om die een huis toe te neem om te gaan was. Ons Camry het hy vir my gelos op dieselfde plek waar hy die ander motor gekry het. Met afgryse het ek gevind dat die hele enjinkap met ‘n skerp voorwerp gekrap is.
My man was seker nie vriendelik genoeg met die “werksoekers” wat hulle gedurig op jou afdwing nie.
Frustrasie en woede is nie woorde wat die gevoel kan beskryf nie wanneer hierdie mense, wat glad nie respek het vir hul eie nie, laat staan nog ander se eiendom, jou goed so verniel dat dit weer baie geld kos om te herstel. Hulle teiken veral vroue.
Ek parkeer glad nie meer my motor daar nie - dit wemel van mense wat leeglę en geld sien wanneer ‘n motor stop.
Ek wil ‘n versoek rig dat die sentrum-eienaars daaraan dink om daardie mense te verwyder van hul parkering.
Ek koop nou elders, waar daar georganiseerde plekaanwysers is en glad nie leeglęers is nie.
Ja-nee, Paarl is lankal nie meer ‘n inkopieparadys nie. Ek ry liewer naweke na ons groot sentrums en koop daar rustig in ‘n ontspanne atmosfeer my benodigdhede. Dit maak op vir die brandstofgeld wat ek moet spandeer.
Ek wil versoek dat daar by die nuwe Paarl Mall wat tans opgerig word van die begin af ordentlik opgevoede mense sal wees wat ons motors oppas, anders sal hulle geen steun kry nie.
Keelvol Paarliet
More
News
|