Skoot kos kat sy oog
2007-11-08
Lise Beyers
“DAT iemand so verskriklik bedreig voel deur ’n klein, weerlose kat dat hy die arme dier in die oog moes skiet, is skrikwekkend.”
Met hierdie woorde vertel insp Chaneen van der Merwe hoe haar kat verlede week in haar huis ingeloop gekom het met ’n stukkende oog.
“My dogter Liandré het verlede Maandagaand omstreeks 19:00 televisie gekyk toe sy ’n skietgeluid buite hoor.
“Kort hierna het ons tweejarige swart kat, Sharkie, ingehardloop en haar oog was heeltemal toegeswel en waterig.”
Toe die oog die volgende oggend net erger gelyk het, het Chaneen die kat na die veearts geneem, maar daar kon nie dadelik vasgestel word wat die oorsaak van die toegeswelde oog was nie.
Daar is aan Chaneen vertel dat die enigste twee alternatiewe sou wees om óf die kat na ’n spesialis toe te neem wat duisende rande sou kos, óf om die oog te verwyder.
Na ernstige oorweging het die familie besluit om die oog te laat verwyder.
“Sharkie het nog altyd die mooiste groen oë gehad en nou is daar net een.”
Die veearts was self nuuskierig om te sien wat die oorsaak van die beseerde oog was en het dit oopgesny om ondersoek in te stel.
Dit is toe dat die windbukskoeëltjie binne-in die oog gevind is.
“Ons was heeltemal geskok hieroor. Wie sal nou so ’n lafhartige daad wil pleeg?
“Hierdie persoon is terdeë ’n lafaard, want hy het nog nooit by ons kom kla oor Sharkie nie. Sharkie is reggemaak en is glad nie ’n rondloper nie.”
'n Plaaslike veearts het gesê dat Sharkie gelukkig is om nog te leef, want as die koeël dieper in sy kop ingegaan het, kon hy dood gewees het.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat dit onwettig is om enige vuurwapen, ook ’n windbuks, in ’n beboude gebied af te vuur.
“Diegene wat hulself hieraan skuldig maak, sal vervolg word.
“Tans word ondersoek ingestel na die lisensiëring van windbukse, want daar word deesdae baie skade met dié vuurwapens aangerig.
“Windbukse is maklik verkrygbaar en benodig tans nie ’n lisensie nie.”
’n Persoon wat op ’n dier skiet sal van dieremishandeling aangekla word.
* A cat has lost its eye after being hit by a pellet from an airgun.
More
News
|