Hy is skaars twintig jaar oud, maar op sy skouers weeg ’n las wat baie jare van sy lewe geëis het. Want hierdie aantreklike jongman met die blougroen oë, se lewe was vir vier jaar oorheers deur die dwelm Tik.
Maar hy is een van die min gelukkige mense wat nou sy kop kan hoog hou en met trots vertel dat hy reeds vyf maande lank vry is van Tik.
Vry ja, maar nie sonder vrees nie.
“Elke dag spook my verslawing nog by my en al vermy ek al my vorige dwelmmaats, is ek steeds bang dat dit enige tyd weer aan my deur gaan kom klop.”
“Dis nie ’n dwelm wat klas ken nie. Dit is uiters gewild tussen jong mense, en hier in die Paarl is dit byna buite beheer.
“Tik begin by ’n partytjie. Daar is jongmense wat jou senior is en hulle is `cool’. Wanneer die Tik aangebied word huiwer jy nie, want jy wil ook `cool’ wees.
“Jy oortuig jouself dat dit nie so erg is soos die grootmense sê nie en wanneer jy dit meer dikwels begin gebruik, oortuig jy ook jouself dat jy nie verslaaf is nie.
“Die handelaars is ook baie skelm. Hulle partytjie saam en aan die begin verkoop hulle vir jou genoeg Tik vir R50 wat vir jou heel naweek sal aan die gang hou. Maar later raak dit al hoe duurder en dis wanneer jy begin steel.”
Sy ma vertel dat sy uiteindelik vermoed het dat iets nie reg is nie, want haar seun het baie gewig begin verloor.
“Maar ons word nooit vertel wat die tekens van Tik-verslawing is nie en weet nie eens hoe die goed lyk nie.
“Ek het eendag in my seun se kamer op pienk kristalletjies afgekom wat soos growwe sout gelyk het, maar niks daarvan gedink nie. Nou weet ek dat dit Tik was.
“Ons gloeilampe het ook baie vinnig begin verdwyn en eers later het ek gehoor dat Tik word dikwels hieruit gerook.”
Intussen het haar seun al hoe verder agteruit gegaan.
Uit hulpeloosheid het hy en sy meisie, wat ook verslaaf was aan Tik, by die Paarl polisiestasie ingestap en om hulp gevra.
Dit is toe dat hulle vir maatskaplike misdaadvoorkomingsbeampte kapt Louise du Plessis raak geloop het.
En vier maande later met die hulp van hul ouers en kapt Du Plessis, sowel as ’n sterk wil om op te hou Tik, is hulle albei goed op pad na ’n blink toekoms.
Maar vir talle is die pad na rehabilitasie nie so maklik nie.
Kapt Du Plessis vertel dat as verslaafdes nie ten volle eerlik met hulself is dat hulle ’n geweldig probleem het en dat hulle wil ophou dwelms gebruik nie, dan sal hulle selfs nie in ’n rehabilitasiesentrum slaag nie.
“En daar gaan baie moeilike tye wees, maar dan moet ouers sterk wees en selfs hard optree teenoor die verslaafde.”
Kapt du Plessis is tans besig om ’n ondersteuningsgroep op te stel vir familielede, vriende en geliefdes van Tik verslaafdes.
Op Saterdag 17 November, sal sy ’n seminaar aanbied by die Paarl Polisiekollege tussen 10:00 en 16:00 om Tik -verslawing aan te spreek. Verskeie sprekers sal aanbiedings lewer en alle aspekte van hierdie dwelm sal bespreek word. ’n Toegangsfooi van R5.sal gevra word. Vir verdere inligting kan Kapt Du Plessis gekontak word by 021807-4044.