EK wens ek kon elke motoris wat verkeerd om ’n verkeersirkel beweeg, stop en ‘n paar behoorlike klappe gee.
Weet julle hoe gevaarlik dit is om in die buitebaan reg om ’n sirkel te ry?
Net Vrydag moes ’n dame reg voor my amper dood stop toe ’n bakkie weereens in die buitebaan om die sirkel by die polisie stasie ry, reg voor haar in.
Sy was in die binnebaan, afkomstig van Suider-Paarl en wou die uitgang na Lady Greystraat neem. In die proses moes ek en ’n hele paar motors agter my ook baie vinnig stop.
Die buitebaan is slegs daar as jy by een ingang in die sirkel indraai en direk weer by die volgende uitgang wil uitdraai.
Die binnebaan is weer slegs daar indien jy by een ingang inkom en eers die tweede of derde uitgang wil gebruik.
Sodoende hoef die buitebaanbestuurders (hopelik) nie eens te stop as hulle wil indraai nie, want hulle is in niemand se pad nie.
En die binnebaanbestuurders hoef nie elke keer senuagtig links agter hom te kyk of daar nie dalk weer ’n idioot is wat in die buitebaan voor jou gaan in ry nie!
Dis slegs genade van Bo dat daar nie elke dag ten minste 20 ongelukke by die sirkel is nie.
Daar is wel aanwysingsborde by elke sirkel opgesit, maar hulle sit te hoog en te ver van die sirkel af.
Daar behoort vier GROOT borde op die sirkel se eiland reg voor elke ingang te wees sodat die bestuurders daarin vaskyk wanneer hulle die sirkel wil binne ry.
Hopelik sal mense hul oë oopmaak en die boodskap kry.
Gefrustreerde padgebruiker