ONS as eienaars van besighede in Hoofstraat wat probeer goeie diens en aangename verblyf aan oorsese gaste in die Paarl verskaf, vind die geraas-brief van verlede week skokkend.
Dit is wel nie onverwags nie.
Die burgemeester trek skouers op en verwys ons na die polisie. Die polisie sê hulle neem kennis en sal patroleer.
Intussen probeer ons Suid- Afrika en ook ons mooi dorp se beeld in die buiteland poets.
Ons kyk met jaloesie na ons buurdorpe, Franschhoek en Stellenbosch, en die hoeveelheid oorsese besoekers wat hulle kry.
In die Paarl is investering nie hoog op die prioriteitslys nie want ons stadsvaders het nog nie Euro, Dollar en Pond somme gedoen nie.
Ons gaan met hierdie probleem na die owerhede en kry antwoorde soos: Julle het gekies om in die Hoofstraat te woon; daar is geen verkeerspolisie aan diens na ure nie, want ons kan nie hul oortyd betaling bekostig
Met ons moed in ons skoene keer ons terug sonder antwoorde vir nog ’n slaaplose nag.
Almal kyk met afwagting na 2010 se sokkerbonanza wat hopelik ook Paarl toe kom.
Maar sal die Switsers hier wil tuisgaan?
Bye-Bye Euro
Hoofstraat